On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou veroordeel nog twee plaasaanvalle

───   ISABEL VAN TONDER 13:29 Mon, 19 Jan 2026

Vrystaat Landbou veroordeel nog twee plaasaanvalle | News Article
Die lewe van boere, gesinne en werkers is ononderhandelbaar, sê VL. Foto: Pexel

Vrystaat Landbou (VL) spreek sy skok uit oor twee plaasaanvalle die naweek in die Vrystaat.

Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere is ononderhandelbaar en die aanvalle word ten sterkste veroordeel, sê VL. In die een voorval is ’n boervrou van Bultfontein (72) en in die tweede ’n boer (56) van Clocolan wreed aangeval.

Die boervrou, wat alleen boer, is Vrydagaand (16/1) omstreeks 18:00 in haar huis oorrompel en erg aangerand. Sy is daarna in haar motor se kattebak toegesluit en deur haar aanvaller in die rigting van Bloemfontein geneem.

Die voertuig het naby Soutpan onklaar geraak, waarna die aanvaller die vrou in haar motor se bagasieruim agtergelaat en die hasepad gekies het. Die vrou het vir ’n nag en bykans ’n volle dag in die snikhete weer in die kattebak vasgekeer gelê, totdat sy Saterdagmiddag ontdek is. 

’n Polisiebeampte van Bultfontein het die voertuig Saterdagoggend om 07:45 gesien, maar eers met sy terugkeer om 17:15 ondersoek ingestel. Hy was nie aan diens nie.

Die vrou het sy voetstappe gehoor en om hulp geroep. Sy is uiteindelik bevry, uitgeput, gedehidreer en getraumatiseerd.

In die tweede voorval is die boer Sondagmiddag omstreeks 18:00 in sy plaashuis in die Clocolan-omgewing deur drie aanvallers oorrompel en ernstig aangerand. Een van die aanvallers wou die boer glo skiet, maar is deur die ander gekeer.

Die boer is herhaaldelik met messe gesteek. Die aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug. Die man kon daarin slaag om hom los te wikkel en het by die werkers se huise gaan hulp soek.

In die 2025-kalenderjaar het altesaam 27 plaasaanvalle en sewe moorde in die Vrystaat voorgekom, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL. Die moordslagoffers was vyf plaaswerkers, ’n boer en ’n besoeker aan ’n plaas. In vyf van die voorvalle is verdagtes in hegtenis geneem.

Ses aanvalle in Desember

In Desember was daar ses plaasaanvalle in die Vrystaat. In die 27 plaasaanvalle is twaalf boere, en in sommige gevalle hul gades, en twaalf plaaswerkers, insluitend veewagters en veiligheidswagte, aangeval. 

In drie voorvalle het besoekers of mense wat op plase woon, ook deurgeloop.

In elf voorvalle is verdagtes in hegtenis geneem. By Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener het elk tussen twee en vier plaasmoorde of -aanvalle voorgekom.

LEES OOK: Vrystaat Landbou vra minister moet plaasmoorde, -aanvalle afsonderlik verklaar

“Ons doen weereens ’n dringende beroep op alle boere, oud en jonk, om aktief deel te neem aan hul plaaslike veiligheidstrukture, insluitend plaaswagte, radiostelsels en veiligheidsinisiatiewe.

“Samewerking en waaksaamheid is tans ons enigste skild teen hierdie gruwelike misdaad. VL vra die owerheid weer om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer en om seker te maak die nodige hulpbronne, mannekrag en optrede word ingespan, soos deur die Nasionale Landelike Beveiligingstrategie gerugsteun.

“Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie,” sê Buys.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.