On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse pa van twee boeties knak toe hy beskuldigde eerste keer sien

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:50 Wed, 21 Jan 2026

Bloemfonteinse pa van twee boeties knak toe hy beskuldigde eerste keer sien | News Article
Tristan Kearney (links); die Smit-familie (regs). Foto: Charne van der Merwe

Die pa wat albei sy seuns ’n jaar gelede in ’n botsing buite Bloemfontein verloor het, het in trane uitgebars toe hy die jong man sien wat na bewering ongeluk veroorsaak het.

Tristan Kearney (20) het Woensdag (21/1) sy tweede verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof gemaak. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, versuim om ’n padverkeersteken te gehoorsaam en die oortreding van verkeersregulasies rakende die toegelate aantal passasiers. 

Kearney moet weer op 24 Maart in die hof wees.

Bestuurder aangekla van ongeluk wat drie Bloemfontein-kinders eis | News Article

Ryan Smit (6), Ayden Smit (8) en Leané van Papendorp (6). Foto: Facebook

Adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger, het die moontlike pleitooreenkoms aan die hof genoem. Hy meen die staat se deskundigeverslag dui daarop dat albei bestuurders aanspreeklik gehou kan word.

Landdros Rasheed Matthews het Woensdag tydens die hofverrigtinge gesê weens al die aanklagte en dokumentasie verstaan hy waarom die saak so lank duur en waarom die verdedigingspan tyd nodig het.

Die hofsaal was gepak met Kearney se familie aan die een kant en die familie van die drie jong slagoffers aan die ander kant. Emosies het weerskante hoog geloop.

Familie van die Smit-boeties omhels mekaar in trane ná die hofverrigtinge. Foto: Charne van der Merwe

Martin Smit, Ayden (8) en Ryan (6) se pa, sê hy het voorsien die saak sou uitgestel word. Hy beskryf dit as die maklikste uitweg. 

“Ek wag vir die volgende hofdatum om te sien wat die uitkoms sal wees. Ek wil sien wat die landdros besluit rakende (Kearney) se pad vorentoe. 

“Daar is geen manier waarop die ongeluk as ’n geval van versagtende omstandighede beskou kan word nie.”

Herman van Papendorp, Leané se pa, en sy verloofde, Amoré Stander, buite die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die ongeluk op 24 Januarie verlede jaar het die lewens van die twee Smit-boeties en hul niggie Leané van Papendorp (6) geëis. Kearney het na bewering met ’n Toyota Hilux en ’n sleepwa vol swaar metaal op die kruising van die N8 en Krugerlaan oorkant Aljo se Superspar ’n rooi verkeerslig verontagsaam.

Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas is. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.

Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark waarin die kinders onderweg skool toe was, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan. 

Familie en vriende se hemde. Foto: Charne van der Merwe

’n Ander kind, Tennique Joubert (toe ses), was vir byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Haar milt moes verwyder word voor sy ná 19 dae in die hospitaal ontslaan is.

Volgens Cornelius en Madelein Berry, Tennique se ouma en oupa, gaan dit onder omstandighede goed met haar. “Sy kry steeds nagmerries, hoewel dit baie beter geword het.”

Volgens Madelein wag hulle op terugvoer van die Padongelukfonds se prokureur, aangesien Tennique steeds met haar been sukkel en verdere skanderings, insluitend ’n breinskandering, moet ondergaan. 

‘Dis ’n leegheid wat ek nie kan beskryf nie’

Sy ervaar ook af en toe emosionele uitbarstings. 

“Tennique het een aand op die bed vir my en haar oupa vertel sy weet haar maatjies is. Hulle is by Jesus. Sy het hulle in ’n droom na Hom toe sien loop.” 

Tinkie Jonck, die drie slagoffers se ouma, het buite die hof gesê die dag toe haar enigste drie kleinkinders weggeneem is, het iets binne haar ook gesterf. “Dis ’n leegheid wat ek nie kan beskryf nie. Hulle was my hele lewe, en ek mis hulle eindeloos.

Familielede Woensdag buite die hof. Foto: Charne van der Merwe

“Ek wil net hê dat die Here hierdie saak op die regte pad moet lei. Ek het nooit enige skade op (Kearney) gehoop nie; ek wil net geregtigheid hê vir wat gebeur het. Ek sukkel steeds met vergifnis.”

Liane sê pa, Herman van Papendorp, en sy verloofde, Amoré Stander, het pienk, haar gunstelingkleur, gedra om haar nagedagtenis te eer. 

“Dit is steeds baie moeilik. Ons wil net hê dit moet verby wees sodat ons die boek kan toemaak.

LEES OOK: Bestuurder glo landuit ná N8-ongeluk drie kinders eis

“Liane sal nooit vergeet word nie; ons eer haar elke dag, maar ons wil nie ons lewens in die hof deurbring vir haar geregtigheid nie.”

’n Kranslegging sal Saterdag (24/1) op die ongelukstoneel gehou word ter herdenking van een jaar sedert die voorval.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.