Central SA
Noord-Kapenaars een tree nader aan geregtigheid─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:50 Thu, 22 Jan 2026
Twee Noord-Kaapse vroue wat van mynbedrog aangekla word, sal op 13 Februarie hoor wat volgende in hul saak gaan gebeur op grond van die voorleggings van hul prokureurs.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het Woensdag (21/1) in die handelsmisdaadhof in Kimberley verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde bedrieglike handel in mynregte.
Hul vorige hofverskyning was op 31 Oktober. Die beskuldigdes het die eerste keer op 10 September in die Douglas-landdroshof verskyn, waar Crossingham borgtog van R15 000 en Rapetsoa borgtog van R800 toegestaan is, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Crossingham het aanvanklik op 9 Julie verskyn, voordat sy as ’n tweede beskuldigde bygevoeg is, terwyl Rapetsoa, ’n mededirekteur van Rowen Tree 60, die eerste keer op 19 Junie verskyn het.”
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek teruggetrek het om prospekteerregte te hernu, nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het. Crossingham word daarvan beskuldig dat sy ’n aparte aansoek in 2012 teruggetrek het terwyl sy mededirekteur van dieselfde maatskappy was.
Die vroue en hul mededirekteure word voorts daarvan beskuldig dat hulle die maatskappy, insluitend ongeldige mynregte, in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman verkoop het.
Voordat die betaling afgehandel is, het Crossingham na bewering die maatskappy aan ’n ander koper verkoop en die kansellasiebrief weggesteek om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig is, sê Thebe. Die klaer, wat geglo het die regte was wettig, het na bewering R1,37 miljard betaal, waarvan R100 000 in een paaiement was.
R2 miljoen-bedrogklagte
In ’n aparte saak duur Ruan Maritz (30) se drie dag lange verhoor tot Vrydag (23/1) in die Hartswater-handelsmisdaadhof. Hy staan tereg op bedrogklagte nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het.
Maritz het die eerste keer op 10 Oktober in die hof verskyn nadat hy op 25 Maart in hegtenis geneem en die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan is.
Hy het hom glo voorgedoen as as ’n makelaar vir Quick Trade Investment en Forex Trading en beleggers oortuig om ooreenkomste aan te gaan wat gelyke bydraes van albei partye vereis, sê Thebe.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.


