On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bedrog: Drie Noord-Kapenaars weer voor op bedrogklagte

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:50 Fri, 16 Jan 2026

Bedrog: Drie Noord-Kapenaars weer voor op bedrogklagte | News Article
Ruan Maritz. Foto: Facebook/Ruan Maritz

Drie Noord-Kapenaars is vandeesweek terug in die hof op bedrogklagte.

Twee vroue staan tereg in ’n saak van mynbedrog, terwyl ’n man daarvan beskuldig word dat hy hom as ’n makelaar voordoen en mense na bewering bedrieg het. Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) sal weer Woensdag (21/1) in die handelsmisdaadhof in Kimberley verskyn. 

Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die beweerde bedrieglike verhandeling van mynregte.

Die beskuldigdes se vorige verskyning was op 31 Oktober. Hulle het eers op 10 September in die Douglas-landdroshof verskyn, waar Crossingham borgtog van R15 000 en Rapetsoa borgtog van R800 toegestaan is, sê kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Crossingham het aanvanklik op 9 Julie verskyn, voordat sy as ’n tweede beskuldigde bygevoeg is, terwyl Rapetsoa, ’n mede-direkteur van Rowen Tree 60, die eerste keer op 19 Junie verskyn het.” 

Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek om prospekteerregte te hernu, teruggetrek het nadat die departement van minerale hulpbronne en energie dit reeds verwerk het.

Crossingham word daarvan beskuldig dat sy ’n aparte aansoek in 2012 teruggetrek het terwyl sy ’n mede-direkteur van dieselfde maatskappy was. 

Kansellasiebrief is versteek

Die vroue en hul mede-direkteure word daarvan beskuldig dat hulle steeds die maatskappy, insluitend ongeldige mynregte, in 2015 aan ’n sakeman verkoop het vir R100 000. 

Voordat die betaling gefinaliseer is, het Crossingham na bewering die maatskappy aan ’n ander koper verkoop en die kansellasiebrief versteek om dit te laat lyk of die prospekteerregte steeds geldig was, het Thebe gesê. 

“Die klaer, wat geglo het die regte was wettig, het na bewering R1,37 miljard betaal, waarvan R100 000 in een direkteur se persoonlike rekening betaal is. Die klaer het uiteindelik die hele bedrag verloor.”

‘Beleggers oortuig om ooreenkomste aan te gaan wat gelyke bydraes vereis’


In ’n aparte saak sal Ruan Maritz (30) weer Donderdag (22/1) in die hof verskyn op aanklagte van bedrog nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het.

Hy het op 10 Oktober in die Hartswater-handelsmisdaadhof verskyn, maar sy saak is tot 22 Januarie uitgestel. Maritz het glo beweer hy is ’n makelaar vir Quick Trade Investment en Forex Trading, en beleggers oortuig om ooreenkomste aan te gaan wat gelyke bydraes van albei partye vereis, sê Thebe.

Hy het egter na bewering versuim om sy deel te verskaf. Maritz is op 25 Maart verlede jaar in hegtenis geneem en is die volgende dag borgtog van R50 000 toegestaan.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.