Central SA
Nuwe minister ondersoek oor beweerde belange in leeubedryf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:31 Fri, 23 Jan 2026
Die nuwe minister van bosbou, visserye en die omgewing verwelkom ActionSA se vrae sodat hy met feite kan reageer op “ongegronde en lasterlike bewerings” teen hom.
Die party het ’n ondersoek van stapel gestuur na die optrede van Willie Aucamp ná bewerings dat hy opgetree het om sy belange te beskerm kort nadat hy die amp aanvaar het. Dit laat glo kommer ontstaan oor potensiële belangebotsings en die minister se etiese integriteit.
ActionSA beweer Aucamp het ná sy aanstelling die mandaat beëindig van ’n taakmag wat die leeubedryf in aanhouding ondersoek het. Die party beskryf dit as ’n “180-grade-ommekeer” van gevestigde regeringsbeleid en sê dit het moontlik die minister se private belange bevoordeel.
“Die span se termyn het op 30 November geëindig ingevolge die tydsraamwerk wat deur my voorganger, Deon George, gestel is,” sê Aucamp.
Die taakspan het hom genader om ’n verlenging van drie weke te versoek om hul verslag af te handel, wat hy goedgekeur het. Hy wag nou op hul voorlegging.
ActionSA vermoed hy het bande met die leeubedryf. Dit sal “hoogs verdag” wees as ’n minister met moontlike belange in die leeubeenhandel stappe doen om pogings te vertraag om die bedryf stop te sit, meen die party.
LEES OOK: Gestaakte leeuteling kan einde van spesie beteken
Hierdie taakspan, wat na bewering deur die nuwe minister ontslaan is, is nie arbitrêr gestig nie, maar is geskep ná ’n hofuitspraak wat die departement se plig uitdruklik bevestig het om dierewelsyn te beskerm, sê ActionSA.
Die span is gevolglik gestig om die bedryf te ondersoek en toesig te hou oor die uitfasering van geblikte leeubedryf en die leeubeenhandel. Daarna het die parlement die aanbevelings goedgekeur.

Aucamp ontken enige bande met die leeusektor. Hy sê nie hy of enige familielid het enige verbintenis met dié bedryf óf met enige onderneming wat daarby betrokke is nie.
Hy maak ook bewerings dat die bedryf hom “gevange geneem het” af as onwaar en sê hy het geen belange wat bots met besluite wat deur sy departement geneem is nie.
ActionSA spreek ook sy kommer uit oor die minister se private sakebelange en beweer hy het nie sy bates volledig verklaar nie. Hy moet ook nog sê of hy sy sakeondernemings in ’n blinde trust geplaas is om belangebotsings te voorkom.
Alle bates verklaar
Die minister ontken dié aantygings en sê hy het al sy bates behoorlik verklaar.
Volgens Aucamp is sy betrokkenheid by ’n vervoermaatskappy in Mei 2019 beëindig. Hy het ook nooit ’n aandeel gehad of in die direksie gedien nie; dus was daar niks om te verklaar nie.
ActionSA sê hulle gaan ’n omvattende reeks parlementêre vrae indien om duidelikheid te eis oor die minister se sakebelange, sy nakoming van etiese standaarde, en die rasionaal agter besluite wat hulle glo hierdie raamwerk ondermyn.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.


