On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Vrae oor omgewingsminister en wildbedryf

───   14:55 Thu, 13 Nov 2025

Vrae oor omgewingsminister en wildbedryf  | News Article
Willie Aucamp (naasliks) met ampsdraers van Wildlife Ranching SA. Foto: Facebook

Die nuwe minister van omgewingsake kry kritiek oor sy beweerde bande met die wildbedryf en veral die geblikteleeubedryf.

Pres. Cyril Ramaphosa het Willie Aucamp, DA-woordvoerder, as minister van bosbou, visserye en die omgewing aangestel as deel van die jongste herskikking in die Regering van Nasionale Eenheid. Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het reeds voor die aanstelling ’n brief aan die president gerig om hul kommer oor Aucamp se beweerde bande met die wildbedryf te opper.

Aucamp volg sy partygenoot Dion George op, wat uit die pos onthef is in dieselfde kabinetskommeling waarin nóg ’n DA-lid, Alexandra Abrahams, as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging aangestel is. Abrahams neem die rol oor van Andrew Whitfield, wat vroeër vanjaar ontslaan is ná ’n ongemagtigde oorsese reis.

Dion George, wat uit sy pos as minister van bosbou, visserye en die omgewing onthef is. Foto: X

Die president het gesê die herskikkings is daarop gemik om prestasie en goeie bestuur in die uitvoerende gesag te versterk.

DA ontken eksterne druk

In ’n verklaring Woensdagaand sê DA-leier John Steenhuisen die party neem kennis van wat hy beskryf as “bespiegeling” oor die rede vir George se verwydering uit die kabinet. 

“Ek wil die rekord regstel, veral gegewe die beriggewing wat probeer voorhou dat sy verwydering die gevolg is van eksterne druk en belange. Die eenvoudige waarheid is dat dit nie die geval is nie.”

Volgens hom is die DA se 12 kabinetsporte­feuljes kritieke poste wat deur die mees bekwame individue gevul moet word, “mense met integriteit, energie en uitnemendheid”.

Reaksie vanuit Brasilië

George woon tans die COP30-beraad in Belém, Brasilië, by. 

In reaksie op ’n navraag van Daily Maverick sê hy: “Ek respekteer die party se besluit en bly gefokus op diens aan Suid-Afrika.”

Ernstige kommer

Die NDBV sê hy het bande met onder meer die geblikteleeubedryf, waarmee die organisasie aktief in ’n veldtog bots. Hulle verwys na berigte wat Aucamp verbind met geleenthede en bedrywighede in die sektor waar wild in aanhouding as handelsware gebruik word.

Die organisasie herinner die regering aan regspraak wat bevestig dat openbare ampsdraers die welsyn van diere moet oorweeg wanneer hulle besluite neem. “Die president en die res van die nasionale uitvoerende gesag het die plig om artikel 24 van die Grondwet na te kom en te beskerm, wat voorsiening maak vir ’n omgewing wat beskerm word tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte.”

Uitnodiging aan NDBV

Aucamp sê hy hoop die NDBV sal bereid wees om saam met hom om ’n tafel te sit “sodat hulle my persoonlik kan leer ken”.

“Ek is oortuig dat indien hulle my beter ken, hulle sal agterkom hul vrese is ongegrond en dat ek altyd in belang van ons land se ryk natuur- en wilderfenis sal optree. Dit is dus ’n ope uitnodiging aan die NDBV om met my te vergader.”

Volgens Daily Maverick was George die eerste minister in jare in dié portefeulje wat ’n beduidende standpunt teen die geblikteleeubedryf en die handel in leeubeendere ingeneem het. Hy was ook ’n uitgesproke ondersteuner van die Nasionale Erfenisstrategie vir Olifante wat vroeër vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is.

Politieke wortels

Aucamp is geen nuweling in die politiek nie. Hy het voorheen gedien as lid van die Nasionale Raad van Provinsies vir die Noord-Kaap, en was later ook nasionale woordvoerder van die DA. Hy het in 2024 sy plek in die Nasionale Vergadering ingeneem.

Sy politieke wortels strek terug na sy pa, Cassie Aucamp, voormalige leier van die Afrikaner-Eenheidsbeweging en stigter van Nasionale Aksie. Willie was aanvanklik by sy pa se party betrokke, het daarna vir ’n kort tyd by die ANC aangesluit en uiteindelik sy tuiste in die DA gevind.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.