Central SA
Oudlanddros se moordenaar kry 22 jaar─── ZENANDE MPAME 16:05 Tue, 03 Feb 2026
Die moordenaar van ’n oudlanddros van Bloemfontein is 22 jaar gevangenisstraf opgelê in die plaaslike hooggeregshof.
Jan Dael (52) is Dinsdag (3/2) gevonnis vir die moord op Piet Bester (63), ’n afgetrede landdros en gewese stut van die Vrystaat Cheetahs en die Griekwas. Hy is vermoor op sy plaas buite Bloemfontein op Saterdag 11 Januarie verlede jaar.
Dael is aanvanklik aangekla van roof met verswarende omstandighede, moord en regsverydeling. Hy is verhoor saam met sy medebeskuldigde, Letiscia Adams (43).
Tydens die verhoor is aanklagte van diefstal en regsverydeling teen Jan Dael (52) laat vaar en al die aanklagte (moord, diefstal en regsverydeling) teen sy medebeskuldigde.
“Die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Vrystaatse Afdeling, het Bangile Dael tot 22 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het aan die moord op die afgetrede landdros Pieter (Piet) Bester,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder in die Vrystaat.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag herhaal sy verbintenis tot die bekamping van gewelddadige misdaad en om te verseker dat oortreders aanspreeklik gehou word.”
‘Hy het in tweede kanse geglo en om niemand af te skryf nie’
Maandag het die slagoffer se suster, Elzabe van den Berg, tydens die slagofferimpakgetuienis beskryf watter onselfsugtige mens hy was wat altyd ander se behoeftes bo sy eie gestel het.
“Hy het in tweede kanse geglo en om niemand af te skryf nie. Hy het die lewe vir ander makliker en aangenamer probeer maak.”
Dael het in sy pleitverduideliking gesê hy het 17 jaar as tuinier op Bester se plaas in die omgewing van Glen gewerk. Adams was die oorledene se huishulp.
In Januarie verlede jaar het hulle Bester tuis besoek, het Dael getuig, toe hy en die slagoffer stry gekry het. Bester het na bewering ’n rassistiese skeldnaam gebruik, waarna hulle buiten toe is toe gemoedere nóg hoër geloop het.
Buite gekom, het hulle mekaar te lyf gegaan. “Hy het my omgestamp. Ek het opgestaan, ’n graaf en ’n tuinvurk gegryp en hom daarmee gesteek, het Dael getuig.
“Bester het neergeval in die oprit langs die garage, waar ek hom gelos het.”
Veelvuldige wonde
Toe hy die volgende môre terugkeer en die 63-jarige steeds daar sien lê, het hy die bure gevra om te kom help. “Ek aanvaar die gevolge van my optrede ten volle en pleit skuldig.”
Tydens die polisie se voorlopige ondersoek het hulle gesê dit blyk dat Bester al langer as 12 uur dood was. Hy is in ’n plas bloed aangetref met veelvuldige wonde.
Hulle glo Bester is met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan omdat hy ’n wond bo sy oog gehad het.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


