On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorper binnekort weer voor hof ná moord op eks

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Fri, 06 Feb 2026

Klerksdorper binnekort weer voor hof ná moord op eks | News Article
Quinn van den Bergh en Barbara Groenewald toe hulle nog gelukkig saam was. Foto: Facebook

’n Man van Noordwes sal op 4 Maart weer in die hof verskyn vir die moord op sy voormalige verloofde.

Quinn van den Bergh (40) het Woensdag (4/2) in die Klerksdorp-landdroshof voorgekom. Hy staan tereg op aanklag van moord.

Van den Bergh het voorheen in ’n bekentenis erken hy het Barbara Groenewald (31), op 22 Oktober 2022 verskeie kere met ’n mes gesteek voordat hy haar in haar huis agtergelaat en die huis aan die brand gesteek het.

’n Nadoodse ondersoek het bevestig Groenewald het gesterf as gevolg van steekwonde en brandwonde.

Tydens die hofverrigtinge het die staat aangedui hy moet steeds sekere inligting bekom en verifieer, insluitend besonderhede rakende Van den Bergh se sielkundige waarneming, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder.

Quinn van den Bergh en Barbara Groenewald. Foto: Facebook

Die saak is in Mei verlede jaar van die hofrol verwyder nadat die staat nie ’n hofbevel nagekom het om ’n sielkundige evaluering te bekom nie, het Gunya vroeër aan OFM Nuus gesê.

Van den Bergh is egter in Oktober weer in hegtenis geneem nadat Barbara se ma, Estelle Groenewald, die privaatspeurder Mike Bolhuis genader het.

Ná sy inhegtenisneming het Van den Bergh weer op 6 Oktober 2025 in die hof verskyn en is hy op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Tydens sy borgtogverhoor het die hof gehoor hy is voornemens om skuld te ontken en sal aanvoer “sielkundige stresfaktore” kon bygedra het tot die misdryf.

’n Verklaring deur ao. Tharina Kemp, die ondersoekbeampte, wat tydens die borgtogverhoor van 2022 aangebied is, het aan die lig gebring Van den Bergh het die aand van die moord na Groenewald se huis gegaan om te sien met wie sy op haar foon kommunikeer. Hy het steeds ’n sleutel van haar huis gehad.

“Toe hy die huis binnegaan, het Barbara wakker geword. ’n Stryery het ontstaan, waarna hy haar met ’n mes in die gesig gesteek het,” lui die verklaring.

Van den Bergh het aan die polisie gesê hy het uit vrees petrol in die huis gegooi en aan die brand gesteek.

Die nadoodse ondersoek het onthul Groenewald het sowel steek- as brandwonde opgedoen en nog gelewe toe die brand begin het.

Van den Bergh het hom twee dae ná die moord aan die polisie oorgegee en aandadigheid erken. Ten spyte van sy bekentenis en die forensiese bewyse, is die saak verskeie kere vertraag.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.