On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Ons dorp val uitmekaar’ – Kuruman-inwoners

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:55 Fri, 06 Feb 2026

‘Ons dorp val uitmekaar’ – Kuruman-inwoners | News Article
Kuruman-inwoners sê hul dorp is in ’n haglike toestand. Foto verskaf

Inwoners van Kuruman sê hul dorp val uitmekaar weens basiese dienste wat ineenstort.

Huishoudings sit dae lank sonder water, kragvoorsiening is onbetroubaar, verkeersligte is buite werking, riool loop straataf en slaggate stel motoriste se lewe in gevaar. Die DA en AfriForum eis onmiddellike ingryping.

Hulle beloof om volgehoue druk uit te oefen op die Ga-Segonyana-munisipaliteit en die provinsiale regering om op te tree in wat hulle beskryf as ’n volskaalse diensleweringskrisis.

Die DA vra in ’n skrywe aan burgemeester George Neo Masagela onmiddellike optrede om die “sistemiese ineenstorting” van basiese munisipale dienste op Kuruman stop te sit.

Volgens die party neem die situasie krisisafmetings aan, wat neerkom op ’n skending van inwoners se grondwetlike regte wat ernstige openbaregesondheid- en veiligheidsrisiko’s inhou.

“Rou riool vloei steeds deur openbare strate weens die (munisipaliteit se) volgehoue versuim om sanitasie-infrastruktuur te herstel en op te gradeer,” sê DA-rdl. Braam van der Westhuizen.

Inwoners ly die afgelope twee weke onder langdurige wateronderbrekings wat soms tot vyf dae duur. Hy sê groot waterlekkasies het in sommige gevalle vir so lank as 18 maande nie aandag geniet nie, wat tot massiewe water- en inkomsteverliese gelei het.

Inwoners sê hulle het ’n punt bereik waar hulle persoonlik die munisipaliteit se oproepsentrum uit desperaatheid bel.

Een van die slaggate voor ’n gastehuis in die dorp. Foto verskaf

Een Kuruman-inwoner sê mense kontak die munisipaliteit direk, maar selfs herhaalde oproepe ontlok geen reaksie of terugvoering nie.

’n Ander inwoner sê daar was die afgelope twee weke elke dag van ongeveer 12:00 tot 21:00 geen water nie.

AfriForum het nou die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) genader om in te gryp.

“Watervoorsiening is ’n basiese reg en as watervoorsiening wisselvallig is, kan die direkte impak op huishoudings, besighede, skole en gesondheidsfasiliteite enorm wees,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se Karoo-distrikskoördineerder.

Kragdrade bedreig lewens

Benewens watertekorte is Kuruman se padinfrastruktuur in ’n toestand.

Van der Westhuizen waarsku kragpale wat omgeval het en blootgestelde lewende kabels wat oor bome en in inwoners se erwe gedrapeer is, stel lewens in gevaar, veral kinders s’n.

Nog ’n inwoner sê die verbrokkelende infrastruktuur benadeel haar onderneming. Die pad in Roselaan, buite haar gastehuis, is in so ’n swak toestand dat sy gaste verloor, aangesien besoekers nie bereid is om op die erg beskadigde stuk pad te ry wat na die eiendom lei nie.

Ook die strate in Kuruman is gehawend. Foto verskaf

Volgens AfriForum word voortdurende wateronderbrekings veroorsaak of vererger deur breër bestuursuitdagings binne die munisipaliteit en kragonderbrekings wat waterpompe beïnvloed. Daar word versuim om pompe weer aan te skakel sodra die krag herstel is.

“Dit is uiters kommerwekkend dat Kuruman nou die tweede Noord-Kaapse dorp in ’n week is wat met ’n waterkrisis sukkel,” sê Smit. “Dit dui op ’n groter sistemiese probleem in die bestuur en instandhouding van waterinfrastruktuur in die provinsie.”

OFM Nuus het vroeër berig AfriForum het die Dawid Kruiper-munisipaliteit op Upington by die MRK verkla omdat hulle nie reageer op ’n skrywe oor die waterkrisis nie.

Verkeersligte beskadig

Die onveilige toestande op Kuruman word verder vererger deur beskadigde verkeersligte, oorgroeide plantegroei wat padtekens en padmerke belemmer, en die munisipaliteit se versuim om funksionele voorafbetaalde water- en elektrisiteitsmeters te verskaf, sê die DA. Inwoners word ook belas met uitermatige hoë en verkeerde munisipale rekeninge.

Ten spyte van herhaalde klagtes en formele verslae, openbaar die munisipaliteit deurlopend verlamming, swak kommunikasie en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid. Raadsvergaderings het ook in wanorde en intimidasie ontaard, sonder gevolge vir diegene wat verantwoordelik is, sê Van der Westhuizen.

Sy party het ’n lys van dringende eise aan Masagela voorgelê, waaronder die onmiddellike staking van rioolstortings, herstel van ’n betroubare watervoorsiening, rehabilitasie van paaie, herstelwerk aan verkeersligte en padtekens, en die implementering van gevolgebestuur.

‘Indien die watervoorsiening nie verbeter nie, sal AfriForum verdere stappe doen’

Die burgemeester word tot Donderdag (12/2) gegun om ’n skriftelike aksieplan met duidelike tydlyne in te dien en dit aan inwoners voor te lê tydens ’n gemeenskapsvergadering op Kuruman.

Op sy beurt het AfriForum die Ga-Segonyana-munisipaliteit 24 uur gegee om te reageer op sy aanvanklike versoek om antwoorde oor die waterkrisis, waarop geen bevredigende reaksie ontvang is nie. Hulle verwag ’n antwoord teen Vrydag (6/2)

“Ons het nou geen ander keuse nie as om die premier en ander provinsiale owerhede sowel as die MRK te nader om stappe te doen om betroubare watervoorsiening vir die inwoners van Kuruman te verseker,” sê Smit. “Indien die watervoorsiening nie verbeter nie, sal AfriForum verdere stappe doen.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.