Central SA
Upington se waterkrisis by Menseregtekommissie aangemeld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Thu, 05 Feb 2026
Die voortdurende waterkrisis op die Noord-Kaap se grootste dorp het ’n burgerregteorganisasie gedring om die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) te nader nadat die plaaslike munisipaliteit glo herhaalde versoeke om ingryping geïgnoreer het.
AfriForum het die Dawid Kruiper-munisipaliteit by die kommissie verkla nadat die munisipaliteit versuim het om binne 24 uur te reageer oor hoe hy die waterkrisis op en om Upington die hoof gaan bied. Die organisasie het Dinsdag (3/2) ’n formele brief aan die munisipale bestuurder gerig waarin hy antwoorde eis oor voortdurende wateronderbrekings.
Die munisipaliteit is ’n dag gegun om skriftelik te reageer, maar teen Woensdag (4/2) 12:50 is geen reaksie of erkenning van ontvangs ontvang nie, sê Lize-Mari Smit, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Karoo.
“Die wateronderbreking is ook aangemeld by die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit, die Noord-Kaapse premier, die provinsiale departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, sowel as die Noord-Kaapse departement van water en sanitasie, wat almal versoek is om in te gryp en die munisipaliteit aanspreeklik te hou.”

Die wateronderbrekings duur al etlike dae, sê Smit. Talle gebiede kry min of geen water nie te midde van versengende hitte, wat inwoners se gesondheid in gevaar stel. Sy sê alternatiewe watervoorrade word oneweredig versprei en sommige gemeenskappe geen toegang tot noodwaterpunte het nie.
AfriForum eis steeds skriftelike terugvoer van die munisipaliteit in reaksie op sy vrae. “Ons monitor die situasie noukeurig en verdere stappe sal oorweeg word indien die munisipaliteit nie aan hierdie basiese diensleweringsvereistes voldoen nie,” sê Smit.
Henk Opperman, DA-sweep in die munisipale raad, sê ’n privaat kontrakteur was Dinsdag (2/3) besig om herstelwerk by die waterbehandelingsaanlegte uit te voer. “’n Raadsvergadering is Woensdag (3/4) gehou, waar ons in kennis gestel is iemand is inderdaad besig om ’n bykomende waterpomp te installeer.”
Volgens Opperman versuim die munisipaliteit om sy verantwoordelikheid te vervul om behoorlike dienste aan inwoners te lewer.

Smit sê die oorsaak van die wateronderbreking is nog nie amptelik bepaal nie en inwoners is nie ingelig hoe lank dit sal duur nie.
“Geen omvattende plan vir noodwatervoorsiening aan alle geraakte gebiede is al bekendgemaak nie en geen verantwoordelike munisipale amptenaar is aangewys om die krisis te bestuur en met die gemeenskap te kommunikeer nie.”
Water is ’n grondwetlike reg, nie ’n voorreg nie, benadruk Smit. “Die voortgesette gebrek aan water, gepaardgaande met swak kommunikasie en ’n algehele gebrek aan verantwoordbaarheid, dui op ’n ernstige diensleweringsmislukking wat onmiddellike ingryping vereis.”
OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

