On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gemengde reaksies ná Ramaphosa se 10de staatsrede.

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:58 Fri, 13 Feb 2026

Gemengde reaksies ná Ramaphosa se 10de staatsrede. | News Article
President Cyril Ramaphosa. Foto: BBC

Politieke partye en ontleders het gemengde reaksies ná die president se tiende staatsrede.

Terwyl die toespraak geloof word vir die klem op die stabilisering in sleutelgebiede soos energie en onderwys, voer hulle aan dat langdurige probleme, veral misdaad, waterinfrastruktuurmislukkings en swak implementering onopgelos bly. Pres. Cyril Ramaphosa het die land Donderdagaand (12/2) in die Kaapstadse stadsaal toespreek.

Prof. Sethulego Matebesi van die Universiteit van die Vrystaat sê die president verdien erkenning van vordering, veral in energiestabiliteit en onderwys, maar gewaarsku dat diepgewortelde uitdagings voortduur. 

Prof. Sethulego Matebesi van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Facebook

“Ek glo sterk die staatsrede moet geprys word aangesien die president baie positiewe aspekte in Suid-Afrika aangeraak het soos dat die land nie meer onder beurtkrag gebuk gaan nie, sowel as die verbeterde prestasie van die 2025-matriekklas.”

Volgens Matebesi bly misdaad ’n ernstige bron van kommer. Hy merk op hoewel die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse nasionale weermag na dele van die Wes-Kaap en Gauteng dalk nodig is, dit ’n kommerwekkende patroon van vertraagde ingryping blootlê.

“Dit beklemtoon ’n ooglopende onreëlmatigheid deurdat situasies dikwels toegelaat word om tot ernstige vlakke te versleg voordat beslissende stappe geneem word, soos onwettige mynbouaktiwiteite in Noordwes en die voortgesette doodmaak van getuies in kriminele sake.”

Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier. Foto: Facebook

Matebesi is bekommerd oor die land se waterkrisis en waarsku wanbestuur en korrupsie kan verwoestende gevolge hê. “Die risiko is dat onvoldoende watervoorsiening die volgende atoombom in Suid-Afrika kan word as dit wanbestuur word. 

“Hoewel miljarde toegeken is, is sigbare vordering beperk.” Hy sê direkte gevolgbestuur en verantwoordbaarheid is nodig, nie net vir amptenare nie, maar ook vir politici, insluitend burgemeesters en raadslede.

Die DA het aspekte van die toespraak verwelkom en dit weerspieël sy positiewe invloed as deel van die die regering van nasionale eenheid. Die toespraak erken vordering in departemente onder DA-beheer, sê Karabo Khakhau, nasionale woordvoerder.

Karabo Khakhau, nasionale woordvoerder. Foto Facebook

“Die president het die werk van DA-beheerde departemente in landbou, openbare werke en infrastruktuur, kommunikasie en digitale tegnologieë, binnelandse sake en basiese onderwys beklemtoon. 

“Die ekonomiese stabilisering stem ooreen met die DA se fokus op groei, werkskepping en armoedeverligting.”

Die DA verwelkom die verbintenis om ’n ramptoestand vir bek-en-klouseer af te kondig, uitgebreide landbou-uitvoere na Asiatiese markte, belegging in vroeë kinderontwikkeling en verbeterings in grensbestuur en digitalisering by Binnelandse Sake.

Ekonomiese stabilisering

“Dit is ’n goeie ontwikkeling, wat die ekonomie sal help versterk,” sê Khakhau. 

“Die president het die werk van DA-beheerde departemente in landbou, openbare werke en infrastruktuur, kommunikasie en digitale tegnologieë, binnelandse sake en basiese onderwys beklemtoon. Die ekonomiese stabilisering stem ooreen met die DA se fokus op groei, werkskepping en armoedeverligting.”

Sy beklemtoon egter meer beslissende stappe is steeds nodig veral in die bekamping van korrupsie en die professionalisering van die staat.

Nie maanskyn en rose

“Daar bly ’n sterk oproep vir strenger optrede teen korrupsie deur vervolging, die verbod op kaderontplooiing en die afbakening van water- en elektrisiteitsfondse in munisipaliteite om betroubare dienslewering te verseker.” 

Terwyl sy die ontplooiing van die weermag na misdaadbrandpunte soos die Kaapse Vlakte ondersteun het, het Khakhau die DA se oproep vir die devolusie van polisiëringsmagte herhaal om ’n plaasliker reaksie op misdaad moontlik te maak.

Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse VF Plus-leier, sê die toespraak het grootliks aan verwagtinge voldoen, maar dis nie als maanskyn en rose nie. 

“Die president het sterk gefokus op die ANC se geskiedenis van stryd, en die simboliek daarvan gebruik om entoesiasme vir die organisasie se verlede te herroep, wat die tekortkominge van onlangse jare ietwat verbloem het,” sê Boshoff.

Hoewel die toespraak verskeie beloftes bevat het, het sommige voorstelle uitgestaan, soos planne om ’n nasionale staatsbeheerde onderneming vir waterinfrastruktuur te stig, soortgelyk aan Sanral.

“Dit laat gemengde gevoelens,” sê Boshoff. “Aan die een kant wek sentralisasie kommer, maar aan die ander kant funksioneer SANRAL-bestuurde paaie beter as provinsiale paaie, dus kan dit óf groter ruimte vir wanbesteding skep óf iets positiefs wees.”

LEES OOK: Sona 2026: Hope or hype? Experts question implementation of reform promises

Boshoff verwelkom die voortgesette skeiding van Eskom se opwekkings- en transmissiefunksies, maar bevraagteken die doeltreffendheid van die ontplooiing van die weermag om misdaad en onwettige mynbou aan te spreek. 

“Die weermag is nie meer in dieselfde toestand as voorheen nie en dit skep die indruk van ’n wantrouemosie in die polisie.” Boshoff is egter teleurgestel dat die president grootliks planne herhaal het wat in die verlede misluk het. 

“Daar was hoop vir ’n duidelike besluit om die privaat sektor doelbewus te betrek, maar dit het nie gebeur nie. Uiteindelik bly dit bekende pragtige woorde wat ’n strelende gevoel gee, maar op hierdie stadium is hulle minder gerusstellend.”

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.