Central SA
Vermiste Kovsiestudent veilig tuis─── REFILWE BEKANE 14:30 Tue, 17 Feb 2026
Die Parkweg-polisiekantoor het bevestig ’n Kovsiestudent wat sedert Vrydag (13/2) vermis is, is ongedeerd opgespoor.
Lerato Sithole is Vrydag as vermis aangemeld nadat sy laas by haar woning in Universitas, Bloemfontein, gesien is. Haar verdwyning het tot ’n grootskaalse soektog gelei nadat haar familie nie met haar kon kontak maak nie.
Volgens ’n polisieverklaring is Sithole gevind na ’n intensiewe, oornag-soektog deur die Parkweg-speurders. Inligting wat ontvang is, dui daarop sy het vroegoggend Dinsdag (17/2) self teruggekeer na die kampus.

Die polisie se hulp is ingeroep toe Sithole se ma haar nie kon bereik nie. Foto: SAPD
Hoewel sy veilig is, duur die polisie-ondersoek na die omstandighede van haar verdwyning voort.
Verdwyning: Dawid Waterboer
Intussen duur ’n ondersoek in die Noord-Kaap voort na die verdwyning van David Waterboer (14) ’n jaar gelede in Nababeep. “Hy het op 7 Februarie spoorloos verdwyn nadat hy ’n atletiekbyeenkoms in Concordia bygewoon het,” sê kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
OFM Nuus het voorheen berig David is omstreeks 10:50 die laaste keer deur sy ma, Lanza, gesien.
Die gr. 7-leerder aan die Primêre Skool Sacred Heart op Nababeep, sowat 15 km noordwes van Springbok, het gedurende die dag die huis verlaat sonder om sy broer in kennis te stel.
Speurders van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid, asook eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, volg alle leidrade op.

David Waterboer,14, wat ’n jaar gelede in Nababeep verdwyn het. Foto: SAPD
Verlede jaar het ’n familielid na bewering ’n boodskap van ’n onbekende persoon ontvang wat ’n losprys vir David geëis het.
Die polisie sê alle inligting word as vertroulik beskou en enigeen met inligting kan sers. Mpasa by 083 690 4790 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel, of gebruik die MySAPS-toepassing.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066487 1427.
OFM Nuus sm/mvh

