Central SA
Groot beloning aangebied vir vermiste Noord-Kaapse tiener─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:25 Thu, 15 May 2025

Namakwaland se polisie bied ’n beloning aan vir inligting wat kan lei tot die opsporing van ’n tiener van Nababeep wat reeds langer as drie maande vermis word.
David Waterboer (14) het op 7 Februarie spoorloos verdwyn op Concordia nadat hy ’n atletiekbyeenkoms bygewoon het.
’n Beloning van R75 000 word aangebied vir enige inligting rakende sy verdwyning wat kan help met die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreder(s), sowel as die opsporing van David, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
Uitgebreide soektog
“Speurders van die Springbok se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, saam met beamptes van die Springbok- en Nababeep-polisiekantoor, sit hul ondersoek na David se verdwyning voort.” OFM Nuus het voorheen berig dat David laas deur sy ma, Lanza, omstreeks 10:50 daardie oggend gesien is voordat sy werk toe is.
Die gr. 7-leerder aan die Primêre Skool Sacred Heart op Nababeep, sowat 15 km noordwes van Springbok, het gedurende die dag die huis verlaat sonder om sy broer in kennis te stel. “Hy is later na bewering by ’n sportdagbyeenkoms in Concordia, ongeveer 20 km van Nababeep af, raakgesien,” het Sergio Kock, polisiewoordvoerder kort ná die voorval gesê.
David se skool het egter nie aan daardie sportdag deelgeneem nie, wat slegs vir hoërskoolleerders bedoel was. Die gemeenskappe van Concordia, Nababeep en Okiep het onmiddellik ’n uitgebreide soektog na die seun van stapel gestuur en weke lank die dorpe, oop velde en omliggende berge gefynkam, sonder sukses.
Ten tyde van sy verdwyning het David ’n swart kortbroek, ’n swart T-hemp en vlootblou sandale aangehad.
In Maart het berigte opgeduik dat ’n familielid na bewering ’n boodskap van ’n onbekende persoon ontvang het wat ’n losprys vir David eis. Kock het egter later slegs bevestig dat alle leidrade ondersoek word en dat geen verdere inligting uit daardie spesifieke bewering na vore gekom het nie.
Alle inligting wat aan die polisie verskaf word, sal vertroulik gehanteer word. Kontak kapt. Whynoma Love by 082 874 4532 of 027 712 8104.
OFM Nuus mvh