Central SA
Bufffelaanval: Vrystaatse veearts volgende week gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:23 Sun, 01 Mar 2026
Die veearts wat deur ’n buffel aangeval is, sal Saterdag (7/3) ter ruste gelê word.
JW Eksteen (51), 'n bekende wildjagter en veearts van Kroonstad, is op 20 Februarie oorlede ná 'n dapper stryd om sy lewe. Hy was vir byna twee weke ná die voorval in die intensiewesorgeenheid by die Mediclinic Bloemfontein.
Volgens ’n verklaring wat kort ná die aanval deur sy familie uitgereik is, is Eksteen op 9 Februarie kritiek beseer op 'n wildplaas buite Clocolan. Hy was besig om 'n trop buffels te behandel toe die voorval gebeur het.
Eksteen het probeer om die hek toe te maak van ’n kamp waar die buffels aangehou is. Die hek het egter vasgesit. In 'n poging om dit te beveilig, het hy opgeklim om die hek los te maak, maar sy hande het gegly en hy het in die kamp geval.

JW Eksteen. Foto: Crown Game Breeders/ Facebook
’n Buffelbul het hom oomblikke later bestorm en hom herhaaldelik gesteek. Hy is agter in 'n bakkie na ’n dokter in Clocolan gehaas.
Die familieverklaring lui Eksteen het ernstige oop wonde opgedoen wat van onder sy linkerarm tot bo sy regterheup gestrek het. Daar was ook oop wonde aan sy bene.
Tydens die operasie het dokters sy borskas herstel en sy organe – insluitend sy longe, hart en diafragma – vir verdere trauma ondersoek. Sy lewer, niere, milt en ingewande is ook geassesseer, en sy buikholtes is geheg. Die wonde aan sy bene en arms is as oop wonde behandel.

JW was ’n geliefde veearts. Foto verskaf
In ’n vroeëre verklaring oor sy toestand is gesê sy koors het heeltemal afgeneem en sy bloeddruk was stabiel. Die dokters het ook geleidelik sy bloeddrukmedikasie verminder. Dreinering uit die borskas was minimaal en daar was geen aktiewe bloeding nie.
Ten spyte van uitgebreide mediese ingryping het Eksteen later aan sy beserings beswyk. Hy word oorleef deur Pauline, sy vrou, en hul kinders, JW en Nienke.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

