On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Is Suid-Afrikaners gereed vir brandstoftekort?

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:38 Thu, 19 Mar 2026

Is Suid-Afrikaners gereed vir brandstoftekort? | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Terwyl spanning in die Midde-Ooste skokgolwe deur wêreldoliemarkte stuur, begin Suid-Afrikaners die knyp by plaaslike vulstasies voel.

Brandstoftekorte word landwyd aangemeld in afwagting van skerp prysstygings begin volgende maand. Vir huishoudings en motoriste is dit meer as ’n kwessie van volmaak: Dis ’n geval van veiligheid, beplanning en oorlewing.

AfriForum sê tekorte word reeds in verskeie dele van die land ervaar. “Ontwrigtings in die voorsieningsketting kan moontlik lei tot sporadiese brandstoftekorte op tuisbodem, wat motoriste onkant kan vang indien hulle nie vooruit beplan nie,” sê Jacques Broodryk, die organisasie se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid.

“Motoriste moet nie wag totdat hul motor amper sonder brandstof is voordat hulle ’n vulstasie begin soek nie,” sê hy. “In ’n tyd wanneer daar groot onsekerheid oor die voorsiening van brandstof is, is dit wys om altyd ’n redelike veiligheidsmarge te handhaaf.”

Jacques Broodryk. Foto verskaf

Dis nie net ongerieflik wanneer jou tenk leegloop nie, dit kan gevaarlik wees. “Op afgeleë paaie of in misdaadgebiede kan dit jou in ernstige gevaar stel om gestrand te wees. Gemeenskappe moet dikwels verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie veiligheid. ’n Eenvoudige ding soos om te beplan (wat) brandstof (betref), kan verhoed dat mense hulleself in kwesbare situasies bevind.”

Hy raai motoriste aan om te sorg dat die brandstofnaaldjie nooit onder half daal nie, roetes noukeurig te beplan, waaksaam te bly en vertroude veiligheidsnetwerke te kontak as hulle in die moeilikheid beland.

Die Sentrale Energiefonds verwag petrol kan die eerste Woensdag in April met sowat R4/L styg en diesel met sowat R7,10/L. Lampolie sal na raming sowat R9/L meer kos.

Hannes Noëth. Foto verskaf

Die maatskaplike gevolge van sulke verhogings is beduidend. “Wanneer brandstofpryse styg, beïnvloed dit nie net vervoer nie, maar ook voedselpryse, dienslewering en basiese lewenskoste,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Dit plaas enorme druk op huishoudings wat reeds op die rand van finansiële oorlewing is.”

Organisasies soos Helpende Hand neem reeds die gevolge in gemeenskappe waar. “Meer gesinne benodig hulp, kinders gaan skool toe sonder kos, en ouers word gedwing om te kies tussen brandstof, kos en skooluitgawes.

“ ’n Brandstofverhoging is nie net ’n ekonomiese kwessie nie, maar ’n diep menslike en sosiale werklikheid. Selfs middelklasgesinne voel die druk namate koste aanhou styg.”

Praktiese beplanning en gemeenskapsondersteuning kan egter ’n verskil maak. “Moenie paniekerig raak en hopeloos raak nie,” is Noëth se raad. “As jy moet voorberei, berei voor. Maar fokus op wat jy kan beheer. Vanuit daardie plek van krag en gestruktureerde ondersteuning kan ons mekaar help.”

Hy sê diensbaarheid begin by die wil om te help. “In tye van ekonomiese druk sien ons ook hoe gemeenskappe saamstaan en mekaar dra. Dit is juis nou die tyd om daardie kultuur van omgee en betrokkenheid te versterk.”

Broodryk beaam hierdie sentiment en moedig gemeenskappe aan om inligting oor plaaslike brandstofbeskikbaarheid te deel en na mekaar om te sien.

AfriForum se voorstelle vir motoriste om hulself te beveilig

  1. Hou die motor se brandstoftenk minstens halfvol waar moontlik, veral voor lang ritte.
  2. Beplan roetes vooruit en maak seker waar die volgende betroubare vulstasies is.
  3. Vermy onnodige ritte indien brandstof skaars raak in ’n gebied.
  4. Hou ’n selfoon gelaai en ’n noodkontaklys byderhand.
  5. Parkeer op ’n veilige, sigbare plek indien die voertuig se brandstof opraak en bly waaksaam.
  6. Kontak padbystand of betroubare veiligheidsnetwerke indien hulp benodig word.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.