Agriculture
Só raak Midde-Oosterse konflik rooivleisboere in SA─── ELSABÉ RICHARD 12:59 Thu, 05 Mar 2026
Die uitvoer van rooivleis, wat per lugvrag vervoer word na die Midde-Ooste, word belemmer weens Amerika en Israel se oorlog teen Iran oor dié land se kernwapenprogram.
Die konflik het gelei tot die sluiting van verskeie lughawens in die streek waar die onrus woed. Die wapenstryd wat Saterdag (28/02) begin het, het sedertdien uitgekring na ander lande soos Dubai, Koeweit en Libanon.
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) sê veral skaapboere kan die uitwerking binnekort voel. Dr. Frikkie Maré, RPO-uitvoerende hoof, voeg by uitvoer is reeds onder druk weens ’n slenkdalkoors-uitbreking verlede jaar in die Noord-Kaap, waarna permitte nog nie aangepas is nie. “Ons gaan definitief ’n daling sien in die karkaspryse van slaglammers, veral by die Noord-Kaapse slagplase wat uitvoer na die Midde-Ooste,” sê Maré.
Wandile Sihlobo, landbouekonoom en Suid-Afrika se presidensiële gesant vir landbou, reken die uitwerking van die konflik sal eers in die komende weke en maande duidelik wees, afhangende van die duur die oorlog en die omvang van die ontwrigting in die Midde-Ooste.
Hy sê Suid-Afrika se landbousektor dryf nie veel handel met Iran nie, maar hy dryf wél handel met verskeie lande in die streek, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate, Katar en Jordanië. “Dus is die omvang van die verspreiding van die konflik iets wat ons dophou, tesame met logistieke probleme,” sê Sihlobo.
Brandstof is verantwoordelik vir 13% van graanboere se insetkoste. Pexels/Alex Rusin
Oliepryse skiet die hoogte in, kan brandstofpryse beïnvloed
Een van produsente se belangrikste insetkoste is brandstof, en meer spesifiek diesel. Die Midde-Ooste is ook bekend as ’n olieproduserende streek en wanneer konflik in daardie lande uitbreek, is daar ’n problem, waarsku Maré. Die prys van diesel het reeds vroeg Maart verhoog met tussen 62c en 65c/L, en Sihlobo sê verbruikers kan hulle nou al staal vir moontlike hoër brandstofpryse in April.
“As olie bo $80/vat bly en die rand swakker bly, sal daar beduidende brandstofprysverhogings in April wees. Dit is tensy die regering ingryp, soos in 2022 ná die Russiese inval in Oekraïne, en van die koste subsidieer,” verduidelik Sihlobo.
Hy sê brandstof is verantwoordelik vir ongeveer 13% van graanboere se insetkoste. April en die daaropvolgende maande is gewoonlik ’n tydperk wanneer boere wat voorberei om wintergewasse te plant, sowel as vir diegene wat op die punt staan om vroeg somergrane en sitrus te begin oes, meer diesel gebruik. Sihlobo voeg by die potensiële brandstofprysverhoging sal daarom waarskynlik opwaartse druk op pryse in die sektor plaas.
Maar Maré sê dis nog te vroeg om vas te stel wat die werklike uitwerking sal wees. “Ek dink onmiddellik, soos ek genoem het, is dit meer skokke op die waardeketting, en ons gaan ’n paar weke moet wag om te sien hoe hierdie gebeure werklik gaan deurtrek na ’n langertermynsituasie toe.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Elsabé Richard-May
