Central SA
Geoglief by Van Zylsrus laat Kalahari-kunste blom─── SUSAN MARÉ 12:18 Mon, 13 Apr 2026
Die Geoglieffees op 9 Mei op Van Zylsrus in die Kalahari laat val die kollig op ’n besonderse filantroop van die kunste en die natuur.
Pieter Abraham Pienaar, kunstenaar, opvoedkundige en skrywer, was verlede jaar die dryfveer agter dié Kalahari-dorpie se eerste kunsteweek, en nou ook van die reuse-aasvoëlgeoglief in ’n bewaringsgebied vir die beskerming van aasvoëls.
Dis nogal uiteenlopende oortjies om by die klou te kry: van ’n skilder wat kunstige hale maak tot agter ’n kruiwavol swaar kalkklippe om ’n enorme geoglief op rooi Kalahari-grond te help ontwerp en pak as projekbestuurder.
’n Geoglief is ’n reuse-ontwerp, figuur of patroon wat direk op die grondoppervlak gemaak word met materiale soos klippe, gruis, kalkstene en selfs mangaanrotse.

Pieter Abraham Pienaar by een van die mangaanrotse. Foto verskaf
Voorbeelde van geogliewe is Peru se Nazca-strepe en Paracas-kandelaar. In Suid-Afrika is daar die Snake Eagle Thinking Path by Matjiesfontein as deel van die Karoo-geogliefprojek.
Pieter is op Kuruman gebore. Ná matriek het hy wye draaie in Suid-Afrika geloop en ook jare in Saoedi-Arabië en China gewerk, maar sy voete loop altyd terug na net één plek: die rooi Kalahari-duine.
Die geoglief by Van Zylsrus is gemotiveer deur Pieter se frustrasie en ontsteltenis oor die afwesigheid van die kunste in die Noord-Kaap. Hy het gedink dit is hoog tyd dat Van Zylsrus ’n kunsteweek kry en het dadelik alle moontlike sosialemediakanale ingespan en met skrywers, digters en kunstenaars in die omgewing kontak gemaak.

Die mangaanrotse word afgelaai. Foto verskaf
Voor die dorpsmense hul oë kon uitvee, is daar by hulle ook iets aan die gebeur rondom die kunste. Dit was ’n geskiedkundige week.
Skrywers het bymekaargekom, die plaaslike jeug het tekenklasse gekry en kunstenaars het hul werk uitgestal terwyl hulle ter plaatse nuwe werk geskep het.
Die moontlikheid van ’n geoglief het juis op dié kunstefees ter sprake gekom. As kreatiewe denker het Pieter gedagtes gewissel met Jan van der Merwe, die landkunstenaar. Gou is die landkunstenaar Anni Snyman en haar broer, PC Janse van Rensburg, ook betrek.

Almal het hard aan die geoglief gewerk. Foto verskaf
Die grond vir ’n geoglief het in hul skoot geval toe Pieter ’n stuk grond naby Van Zylsrus kry wat aan die hoteleienaars behoort. Dit was die begin van die span se droom om ’n aasvoël van 17 000 kalkklippe te pak. Dié beplande geoglief word toe sommer die inleiding van die 2025-kunsteweek.
’n Week voordat die kunsteweek sou begin, is die 3,2 km lange ontwerp van die aasvoël geteken deur die ervare ontwerpers en hul vriende.
Aasvoëls word in dié woestynwêreld bewaar deur veilige sones, habitatbeskerming en die bekamping van vergiftiging. Projekte soos die skep van veilige voerplekke soos in die Tswalu Kalahari-wildreservaat by Van Zylsrus verminder die risiko van dood deur gif en loodvergiftiging.

Die geoglief vanuit die lug gesien. Foto verskaf
Die wildreservaat het Suid-Afrika se eerste veilige sone vir aasvoëls gevestig. Die SA Jagters-en-wildbewaringsvereniging en ook The Vulture Conservation Project (VulPro) is aktief by aasvoëlbewaring betrokke.
Pieter het die rol van projekbestuurder geërf, want die wiele het behoorlik begin rol. Duisende kalkklippe moes opgetel en op die terrein gestort word en hy moes ook ’n paar groot mangaanklippe iewers uit ’n vriendelike myn uitwoeker vir die oë en pote.
Die geoglief se ononderbroke lyn sal ’n wandelpad van sowat 3,5 km vorm, wat baie vir toerisme kan beteken omdat Van Zylsrus reeds ’n sentrum is van ’n internasionale aasvoëlbewaringsprojek, wat deur Franse weldoeners gefinansier word.

Kalkstene is met vragmotors vervoer. Foto verskaf
Kobus Duvenhage Bouers van Upington was so opgewonde oor die geoglief dat hy ’n vragmotor en bestuurder beskikbaarstel waarmee die klippe vervoer kan word. Kobus is ’n boorling van Van Zylsrus en het ook reëlings met die landmeter YXZ Resources getref om die middelpunt van die geoglief vir die landkunsspan aan te dui.
Jaap Schreuder, ’n plaaslike boer, het vriende nader getrek wat die taak vergemaklik het en ook met sekere finansieringsaspekte gehelp. Vroeg in September het Trollope Mining Mokala Manganese die mangaanklippe afgelewer, presies op die plekke wat die landmeter aangedui het.
Pieter sê as jare lange kunsonderwyser was landkuns deel van die leerplan, maar die woord “geoglief” het hyself nooit gebruik nie. Dat hy eendag self letterlik klippe sou optel en spreekwoordelik kou, was nie naby aan sy gedagtes nie.
Eindelik was daar baie praktiese implikasies wat hy ook moes hanteer met so ’n enorme projek. Daar was skakeling en onderhandeling, bemarking, hy moes elke video en advertensie self maak en stuur, en dink hy het die helfte van die land mal gemaak.
“Hoe vertel jy nou vir iemand in die Kalahari dat jy besig is om 17 000 kalkklippe op te tel sodat ’n aasvoël op ’n vlakte daarmee geteken kan word? Dit sal in geheel slegs met hommeltuigfoto’s gesien kan word – is dit nie bietjie dik vir ’n daalder nie?
“Dis so absurd in ’n streek waar die kunste heeltemal onsigbaar is en jy hoor hier en daar steeds by mense dat daar niks van die pad af te sien is nie. Ek raak ook benoud oor finansiering. Ek stuur nederige versoeke (om blootstelling of geldelike hulp), maar die reaksie is skrams.”

Die geoglief vanuit die lug gesien. Foto verskaf
Hy troos hom toe daaraan dat die term “geoglief” seker so vreemd moet wees in ’n land waar “doef-doef-musiek” en biertente vir die meeste mense die beste kulturele opsie sou wees.
In September, toe die projek op dreef kom, het Tim Vinck van die Internasionale Meerkatnavorsingstasie, 25 km buite Van Zylsrus, hommeltuigfoto’s geneem, en dinge lyk toe nie goed nie. Die ontwerpers was nie tevrede nie, die bestaande lyn moes breër gemaak word. Daar sou weer 10 000 kalkklippe opgetel moes word.
Dié klippe optel is van 9 tot 13 Maart onderneem. Van die groter klippe moes met ’n domkraghamer stukkend gebeitel word.
“Daar kom ’n stadium vir elke projekbestuurder dat die behoefte aan aanvaarding en begrip die wyk neem en die begeerte aan klaarmaak die fokuspunt raak. Jy wil net ‘amen’ prewel,” sê Pieter.
Een van die mangaanrotse is op sy plek geplaas. Foto verskaf
Om die geldnood op te los hou Van Zylsrus op 9 Mei ’n Geoglieffees. Stappers, drawwers en fietryers word almal uitgenooi. Die NG-kerkorgel is selfs reggemaak vir ’n orgeluitvoering net voor middagete, en al wat ’n gewillige Noord-Kaapse orgel is, kan kom speel. ’n Feesorkes uit Johannesburg gaan die geoglief se verskyning teen skemeraand op 9 Mei op die terrein help vier.
Dit is vir hom as boorling van die streek moeilik om te sien hoe hulpeloos en vergete baie mense op die platteland is. Hy dink waarmee hulle nou besig is, is om die kreatiewe ekonomie van die platteland te stimuleer deur hierdie gemeenskapsprojek. Finansiering maak dit moontlik om dagwerkers in diens te neem.
“Ons sien baie potensiaal in wat die geoglief eindelik vir Van Zylsrus en omgewing kan beteken. Dit gaan ’n begrensde gebied wees en dit sal vir skoolkinders ook ’n unieke een-dag-buitelugskool kan wees.
“Op die terrein sal daar op die insekte, reptiele, plante, voëls en ander ekosistemiese aspekte gefokus kan word. Skole kan groepe stuur om byvoorbeeld een nag in ’n tentedorpie te kom oornag waar hulle oor die sterre ingelig kan word.
OFM Nuus/Susan Maré dg sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

