Central SA
Polisie waarsku teen verspreiding van video ná Vanderbijlpark-skietery─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:55 Sun, 19 Apr 2026
Die Gauteng-polisie kan nie kommentaar lewer oor ’n video op sosiale media wat na bewering ’n verdagte wys wat ’n munisipale werknemer skiet nie.
Die polisie waarsku die saak word steeds ondersoek en onbevestigde bewerings kan die proses belemmer. Hulle gaan ook nie in die stadium enige inligting oor die identiteit van die verdagte uitreik nie, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder
“Ons vra die publiek om nie video’s of foto’s te versprei of enige gevolgtrekkings te maak nie. Geen verdere kommentaar sal gelewer word nie. Indien daar enige verwikkelinge is sal dit dienooreenkomstig gekommunikeer word.”
’n Facebook-inskywing wat Saterdag (18/4) geplaas is, beweer die man is ’n vermeende huurmoordenaar.
Martha Mani Rantsofu (40), ’n finansiële klerk van die Emfuleni-munisipaliteit, is Maandag (30/3) omstreeks 16:19 helder oordag in Vanderbijlpark doodgeskiet.
Volgens Nevhuhulwi het Rantsofu by ’n onderneming gewag terwyl haar voertuig se pap motorband herstel is. ’n Onbekende man het nader gekom en op haar losgebrand. Beeldmateriaal van die veiligheidskameras wys sy was besig op haar selfoon oomblikke voordat die verdagte haar van naby skiet.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die polisie beklemtoon die man se identiteit is nog nie amptelik bevestig nie en enige verspreiding kan die ondersoek benadeel. “Enigeen met betroubare inligting kan die polisie kontak,” sê Nevhuhulwi.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


