On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisie slaan toe op onwettige apteek in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:45 Wed, 29 Apr 2026

Polisie slaan toe op onwettige apteek in Kimberley | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die hooggeregshof in Kimberley het ’n verbeurdverklaringsbevel toegestaan nadat wetstoepassers toegeslaan het op ’n onwettige apteek en daggaverspreidingspunt.

Die Galeshewe-polisie sal bates ter waarde van meer as R156 000 aan die staat verbeurd verklaar. Vroeër vandeesmaand is aangekondig die Noord-Kaapse polisie sal nie net misdadigers kan aankeer nie, maar ook magtiging hê om bates te neem wat aangewend word om misdaad te pleeg.

Die staat mag wettiglik besit neem van bates wat met misdadige optrede verband hou. Dit sluit geld, voertuie, eiendom en ander waardevolle artikels in.

“Lede van Kimberley se eenheid vir openbare orde is op 11 Oktober na ’n verdagte eiendom in Galeshewe gelei waar onwettige aktiwiteite aangemeld is,” sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder. “Met hul aankoms en ná ’n aanvanklike assessering is die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke se ondersteuningspan vir ondersoeke na ernstige georganiseerde misdaad ontbied.”

Op die perseel het beamptes op ’n groot besending ongeregistreerde medisyne afgekom, waaronder strope en tablette wat na bewering sonder magtiging verkoop is, sê Thebe. Beslag is gelê op onder meer 114 bottels Painagon, 100 bottels Stilpane, 100 bottels Bronclear, 30 bottels Lenazine Forte en 431 Mylon-tablette. “Die bottels is glo vir R60 elk verkoop.”

Terwyl beamptes die persoon deursoek het, het ’n sterk daggareuk hulle opgeval. Dit het hulle gelei na ’n vertrek waar hulle ’n groot hoeveelheid dagga in swart plastieksakke ontdek het. Die geraamde straatwaarde is minstens R90 000.

Twee Zimbabwiese burgers, ’n man (53) en ’n vrou (44), is in hegtenis geneem, vertel Thebe. “Die beskuldigde het na bewering ’n onwettige apteek bedryf en medikasie versprei sonder die nodige kwalifikasies of magtiging, strydig met die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe.”

Nadere ondersoek het aan die lig gebring die verdagtes is werkloos en het nie aktiewe bankrekeninge in Suid-Afrika nie.

“Die batebeslagleggingseenheid het ’n hofbevel bekom vir die bates, wat met die onwettige bedrywighede verbind word,” sê Thebe.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.