On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse hof keur beslaglegging op misdadigers se bates goed

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:38 Wed, 22 Apr 2026

Noord-Kaapse hof keur beslaglegging op misdadigers se bates goed | News Article
Die hoogeregshof in die Noord-Kaapse het beslaglegging op misdadigers se bates goedgekeur. Foto: OFM Nuus

Die Noord-Kaapse polisie sal nie meer net misdadigers aankeer nie, maar sal ook bates kan afvat waarmee misdaad gepleeg is.

Die hooggeregshof in Kimberley het Maandag (20/4) finale goedkeuring gegee dat die staat wettig eienaarskap van bates mag neem wat met misdaad verband hou. Dit sluit geld, voertuie, eiendom en ander waardevolle artikels in.

 ’n Gesamentlike optrede deur die Valke en die NVG se bateverbeuringseenheid (AFU) het gelei tot hofbevele om op bates ter waarde van meer as R1,2 miljoen beslag te lê, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder. Hierdie beslagleggings word gekoppel aan verskillende strafregtelike sake dwarsoor die provinsie.

‘Die staat mag wettig eienaarskap van bates neem wat met misdaad verband hou’

In Mei 2024 het die polisie op Postmasburg ’n verdagte in hegtenis geneem in verband met ’n minibusdiefstal. Volgens Mnisi is die verdagte betrap terwyl hy skoolkinders afgelaai het. Die voertuig, van R153 950, is afgevat en later aan die staat verbeurd verklaar.

In ’n aparte voorval is beslag gelê op ’n wit Opel Corsa ter waarde van R59 900 nadat dit gebruik is om ’n gesteelde bok te vervoer. Die hof het beslis dat die voertuig gebruik is in die pleging van ’n misdaad, wat tot die beslaglegging daarvan gelei het.

Suksesvolle beslaglegging-gevalle

In ’n ander geval het De Aar se polisie opgetree op grond van inligting oor ’n voertuig waarmee gesteelde koperkabels vermoedelik vervoer is. Beamptes het die bestuur voorgekeer en op 580 kg koper afgekom, wat gelei het tot beslaglegging op die Mazda.

In September 2024 het die grenspolisie van Upington ’n vragmotor op die N14 onderskep wat na bewering gebruik is om gassilinders onwettig te vervoer.

Die vragmotor en sleepwa was volgelaai, sê Mnisi, en die bestuurder is daarna in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op die vragmotor, sleepwa en gassilinders ter waarde van R555 190.

Benewens voertuie het beamptes ook toegeslaan op eiendom wat met misdaad verband hou. Op Kuruman is twee huise geïdentifiseer wat gekoop is met opbrengste van onwettige dwelmbedrywighede. Die eiendomme, ter waarde van ongeveer R1.27 miljoen, is aan die staat gegee nadat die hof bevind het dat dit gebruik is om misdaad te pleeg.

Brig. De-Wit Botha, waarnemende provinsiale Valke-hoof, sê onwettige gedrag sal ernstige gevolge sal hê. “Hierdie optrede is bedoel om dit vir misdadigers toenemend moeiliker te maak om hul aktiwiteite voort te sit.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.