Central SA
Veroordeelde Welkom-prokureur weer nie voor hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Tue, 12 May 2026
’n Veroordeelde prokureur van Welkom het weer nie in die hof verskyn nie, glo weens probleme met sy papierwerk.
’n Administratiewe fout deur die departement van korrektiewe dienste het glo veroorsaak dat Jan Gysbert Maritz (58) nie Vrydag (8/5) van die Grootvlei-gevangenis by Bloemfontein na Welkom gebring kon word nie. Dit is die tweede keer dat Maritz onder soortgelyke omstandighede nie in die hof verskyn nie, sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.
In Oktober het hy nie voorgekom vir ’n borgtogverhoor nie, blykbaar weens ’n “misverstand”. Maritz staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en geldwassery waarby R15 miljoen betrokke is. Sy volgende verskyning is Donderdag (14/5) in die Bloemfonteinse handelsmisdaadhof.
Die aanklagte spruit uit ’n regsgeskil tussen Matjhabeng en Orxy Trading, besit deur wyle Freddy Dingani, wat veiligheidsdienste aan die munisipaliteit gelewer het. Maritz het die saak namens Matjhabeng vir Bokwa Prokureurs behartig.
Nadat Motaung Prokureurs as eksekuteur van Dingani se boedel aangestel is, het hulle die regsgeding voortgesit. Luidens die klagstaat het die hooggeregshof in Bloemfontein op 17 Desember 2020 gelas dat die munisipaliteit teen 16 Julie 2021 R15 miljoen aan Orxy Trading moes betaal het.
Toe die munisipaliteit Orxy Trading se bankbesonderhede van Maritz aanvra, het hy na bewering dié van sy beslote korporasie verskaf. Omdat die geld toe glo in dié rekening gedeponeer is, staan hy tereg op vier aanklagte, insluitend bedrog, vervalsing en geldwassery.
Maritz het voorheen getuig dat sy inhegtenisneming vir hom ’n verrassing was en het die betaling in sy beslote korporasie se rekening as ’n “groot ongeluk” beskryf. Hy het glo die munisipaliteit daarvan ingelig nadat hy ’n kennisgewing van sy bank oor die deposito ontvang het.
Lewenslank gevonnis
Hy was blykbaar van plan om die munisipaliteit terug te betaal, maar is na bewering opdrag gegee om die geld na die bankrekening van Motaung Prokureurs oor te betaal. Hy beweer die munisipaliteit se finansiële bestuurder het hom gewaarsku versuim om Orxy Trading voor die sperdatum te betaal, kon tot boetes lei, terwyl die munisipaliteit se bankrekeninge na bewering bevries was.
Hy het slegs R10 miljoen te veel betaal omdat regskoste by die totale bedrag van R15 miljoen ingesluit was, het hy getuig.
Voorheen het hy in die hof aangevoer hy kon borgtog van R10 000 bekostig en sou aan alle borgtogvoorwaardes voldoen. Hy het die afgelope ses jaar getrou die verrigtinge in sy ander strafsaak bygewoon het, het hy aangevoer.
Adv. Mphakamisi Tseki vervolg die saak, terwyl Matt Willemse Maritz verteenwoordig.
Maritz dien tans drie lewenslange vonnisse in Bloemfontein uit vir veelvuldige seksuele oortredings met minderjariges. Hy is op Vrydag 17 Oktober in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is op 16 voorvalle tussen 2007 en 2014 op Virginia, Odendaalsrus en in Welkom.
Tydens vonnisoplegging het regter Soma Naidoo gelas dat Maritz se naam geplaas word in die nasionale register vir seksuele oortreders en hom permanent verbied om met kinders te werk.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.


