Central SA
Klerksdorp-hof hoor dood ná kroegbakleiery was voorkombaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:47 Thu, 21 May 2026
'n Staatsgetuie het erken die dood van ’n Noordwes-man kon vermy gewees het as hy nie die beskuldigde gekonfronteer het nie.
Pieter Joubert, oudwerkgewer van Hilton Pretorius (32), het Woensdag (20/5) in die streekhof in Klerksdorp getuig. Pretorius is op 19 September 2023 oorlede ná ’n vuishou van Wernich Botha (34).
Botha staan tereg op aanklagte van moord, en van poging tot moord op PW Roos ná die voorval op 2 September 2023 in die parkeerterrein van Cadillac’s ’60s Pub in Klerksdorp.
Pretorius het hom daardie oggend ingelig daar was die vorige aand ’n rusie, en hy vermoed hy het harsingskudding opgedoen, het Joubert getuig.
‘Ek kon sien hy het ’n drankie gedrink’
Botha het die vorige aand sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), saam met Pretorius tuis in die bed betrap. Botha het Pretorius twee keer met die vuis is die gesig geslaan, het Van der Merwe vroeër getuig.
“Hilton het daardie middag by my huis aangekom met ’n beseerde lip. Ek kon sien hy het ’n drankie gedrink. Hy het vir my gesê hy het die vorige aand by Natasha gebraai en is deur Botha wakker gemaak terwyl hy saam met haar in die bed was,” het Joubert gesê.
Kobus Burger, Botha se regsverteenwoordiger, sê Pretorius het gebel en boodskappe van sy foon af gestuur, hoewel hy onseker is aan wie.
Joubert het voorts aan die hof gesê in een van die oproepe het Pretorius vir Botha gesê hy is nou wakker, dié kan hom nou maar kom moker.
Pretorius wou Botha konfronteer oor die houe in die bed, het Joubert gesê. “Hy het aangedring om na die spesifieke kroeg te gaan omdat hy Botha daar wou gaan soek. Ek wou nie dat Pretorius alleen ry nie, omdat hy alkohol in gehad het.”
Joubert en Pretorius het later na Cadillac’s gery. Van der Merwe het hulle na bewering gewaar en vir Botha geskree: “Daar is Hilton!” Pretorius het op Botha afgestorm terwyl hy hom gevloek het.
Van der Merwe het voorheen vertel daar was geen gesprek tussen hulle voordat Botha Pretorius platgeslaan het nie. Pretorius se lyftaal en hoe hy Botha genader het, het haar laat glo hy was van plan om Botha aan te rand.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe. Foto: Facebook
Pretorius het vroeër daardie dag dreigende boodskappe aan haar gestuur waarin hy gesê het dat hy “Botha gaan kry” en dat hy “niks meer het om te verloor nie”, het Van der Merwe ook getuig..
Adv. Hennie du Plessis, Botha se regsverteenwoordiger, het aangevoer volgens die boodskappe het Pretorius nie belanggestel om met Botha te praat nie, maar was van plan om hom te lyf te gaan.
Joubert was bewus daarvan dat Pretorius in ’n onstabiele gemoedstoestand was, het Du Plessis gesê, maar het steeds saam met hom na die kroeg gery. Joubert het glo volgehou hy het nie vermoed daar sou ’n bakleiery wees nie.

Hilton Pretorius se familie. Foto: Charne van der Merwe
Caswell Ntoyi, staatsaanklaer, meen die voorval kon vermy kon gewees het as Pretorius nie vir Botha gekonfronteer het nie.
Pretorius se suster, Lindie Geldenhuys, sê sy dink dagin en daguit aan haar broer. Sy het belowe sy geliefdes sou “bly veg op ons knieë, en daai belofte sal ek hou. Jou lewe is gesteel, so vinnig, so seer, so wreed … Ons mis jou en is bitter lief vir jou!”

Die saak is uitgestel tot 31 Augustus en 1 September. Die staat wil nog drie getuies roep: die dokter van Tshepong-hospitaal wat Pretorius behandel het, die ondersoekbeampte, wat sedertdien afgetree het, en iemand wat die voorval op ’n selfoon opgeneem het.
Botha werk in Somalië en sal dan eers weer in die land wees.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
