On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp-kroegmoord: Staatsgetuie vra beskuldigde om verskoning

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:59 Wed, 20 May 2026

Klerksdorp-kroegmoord: Staatsgetuie vra beskuldigde om verskoning | News Article
Wernich Botha. Foto: Charne van der Merwe

’n Staatsgetuie in die moordverhoor op ’n man van Noordwes het die getuiebank verlaat om die beskuldigde se hand te skud en om verskoning te vra.

Die voorval het op die tweede dag van Wernich Botha se verhoor in die Klerksdorp-streekhof ontvou. Botha staan tereg op aanklagte van moord op Hilton Pretorius en poging tot moord op PW Roos. 

Pretorius is op 19 September 2023 oorlede, 18 dae nadat hy na bewering aangerand is in die parkeerterrein van Cadillac se ’60s Pub in Klerksdorp. Botha het sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), saam met Pretorius in die bed in sy huis betrap het.

Videobeeldmateriaal van die voorval is Dinsdag (19/5) in die hof gewys. Tydens Roos se kruisondervraging het verdedigingsadvokaat Kobus Burger verwys na beeldmateriaal wat wys hoe Roos vir Botha nader in ’n poging om hom te slaan.

Burger sê Roos het aanvanklik ontken hy het probeer om die beskuldigde te slaan, maar nadat die videobewyse aangebied is, het hy erken dat hy wel probeer het om die eerste hou uit te deel.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe. Foto: Facebook

Die verdediging voer aan Botha het uit selfverdediging opgetree, ’n weergawe waarmee Roos uiteindelik in die hof saamgestem het. Roos het toe die getuiebank verlaat en Botha se hand geskud en om verskoning gevra het. Roos het die staat versoek om hom nie te vervolg nie.

Nog ’n getuie, Henk Olivier, het later getuig oor die gebeure. Hy sê hy het saam met Roos en sake-eienaar Louis Bornman na die toneel gejaag, waar Pretorius kritiek beseer gelê het.

Klerksdorp-moordverhoor: ‘Beskuldigde menigmaal deur oorledene gedreig’ | News Article

Hilton Pretorius se familie. Foto: Charne van der Merwe

Botha het hom geklap en hy het gereageer deur hom terug te klap, het Olivier getuig. Hy het daarop gekonsentreer om Pretorius te help, wat hy op sy rug wou draai. Botha het egter daarop aangedring dat die beseerde man op sy sy moes bly sodat hy nie aan sy bloed sou verstik nie.

’n Staatspatoloog het Maandag (18/5) getuig die hou wat na bewering aan Pretorius toegedien is, die deurslaggewende faktor was wat tot sy dood gelei het. Dr. Christina Maria Human het aan die hof gesê Pretorius het akute respiratoriese noodsindroom ontwikkel, wat moontlik verband kon hou met longontsteking en ’n ernstige breinbesering wat ná die aanranding opgedoen is.

"Hierdie komplikasies sou nie ontwikkel het as hy nie die aanvanklike beserings opgedoen het wat tot sy hospitalisasie gelei het nie," het sy aangevoer.

Die saak duur Woensdag voort wanneer ’n ander getuie na verwagting sal getuig.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.