On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Yvette
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Mangaung: AfriForum vra vir beter dienslewering, verantwoordelike begroting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:12 Sat, 23 May 2026

Mangaung: AfriForum vra vir beter dienslewering, verantwoordelike begroting | News Article
AfriForum eis dringende verbetering vir Bloemfontein se infrastruktuur. Foto verskaf

’n Burgerregteorganisasie in die Vrystaat lewer kommentaar op die metro se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) wat gefokus is op die dringende behoefte aan beter dienslewering en verantwoordelike begrotingsbestuur en infrastruktuur.

“Die metro se begroting moet realisties en op dienslewering gerig wees en terselfdertyd ook op die gemeenskap fokus, sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder.

Die organisasie meen daar moet voorsiening gemaak word vir die opgradering, herstel en instandhouding van kritieke infrastruktuur, insluitend paaie, stormwaterstelsels, water- en rioolinfrastruktuur, elektrisiteitsnetwerke, openbare ruimtes en afvalbestuur.

“Inwoners moet nie langer die gevolge van gebrekkige beplanning, onvoldoende instandhouding en swak begroting dra nie. Die metro moet sy beskikbare hulpbronne aanwend waar dit die grootste impak op inwoners se daaglikse lewe sal hê,” sê hy.

’n Belangrike deel van AfriForum se kommentaar handel oor vullisverwydering. AfriForum versoek dat die metro AfriForum-dienste in Bloemfontein, waar toepaslik, as ’n gemeenskapsgebaseerde diensverskaffer erken.

Vullisverwydering

Dit is veral relevant waar AfriForum of ander private diensverskaffers reeds inspring om noodsaaklike vullisverwyderingsdienste te lewer waar die metro nie kan nie.

Die organisasie vra dat inwoners en lede wat aansoeke om kwytskelding van vullisverwyderingstariewe ingedien het, behoorlik oorweeg en goedgekeur moet word. “Dit is onbillik dat inwoners ten volle vir ’n munisipale diens moet betaal terwyl hulle terselfdertyd uit hul eie sak vir dieselfde noodsaaklike diens moet betaal.” 

AfriForum vra ook die tariewe vir die gebruik van die vullisterrein moet hersien word om te verseker dit bly redelik, bekostigbaar en prakties uitvoerbaar. Onredelike of onbekostigbare tariewe kan verantwoordelike afvalbestuur ontmoedig en tot onwettige storting bydra. 

AfriForum meen die tariefstruktuur moet verantwoordelike afvalverwydering aanmoedig en nie verhinder nie.

GOP-proses

AfriForum se Bloemfontein-tak beklemtoon die GOP-proses moet nie bloot ’n administratiewe oefening wees nie, maar ’n werklike geleentheid vir inwoners, organisasies en gemeenskappe om insette te lewer oor hoe openbare geld aangewend word.

“Die Mangaung-metro moet sy begroting gebruik vir die herstel van basiese dienste en die instandhouding van noodsaaklike infrastruktuur. Inwoners betaal vir dienste en het die reg om te verwag dat hierdie dienste betroubaar, bekostigbaar en deursigtig gelewer word.” 

“Waar gemeenskappe en private diensverskaffers reeds help om gapings in dienslewering te vul, behoort die metro dit nie te ignoreer nie. Die metro moet praktiese samewerking met gemeenskapsinstellings oorweeg en inwoners nie dubbel laat betaal vir dienste wat nie behoorlik gelewer word nie.” 

Die Bloemfontein-tak sal voortgaan om die begrotingsproses, tariefstrukture en verpligtinge teenoor dienslewering te monitor. “Ons sal aanhou om namens inwoners druk uit te oefen vir verantwoordbare bestuur, beter infrastruktuurbeplanning en billike munisipale tariewe.” 

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.