Central SA
Nylkrokodille glo langer as twee jaar onwettig aangehou op Springs─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Wed, 27 May 2026
Binne die mure van ’n huis op Gauteng se Oos-Rand is ’n skokkend ontdekking gemaak toe twee Nylkrokodille in ’n beknopte hok aangetref is.
’n Strafsaak word ondersoek nadat die polisie op ’n wenk gereageer en Maandag (25/5) op die twee reptiele in die woonhuis op Springs afgekom het.
Polisiebeamptes, die departement van omgewingsake, die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, die Johannesburgse veeartsenykundige hospitaal vir wilde diere en die DBV het ’n lasbrief van die plaaslike landdroshof gekry waarna hulle op die perseel toegeslaan het.
“Met die polisie se aankoms was die eienaar nie tuis nie. Wetstoepassers is vergesel van ’n man, wat vermoedelik die eienaar se maatskappy bestuur,” sê die polisie.
Hulle het ’n swart staalhok van sowat 5,6 x 1,8 m ontdek met twee Nylkrokodille daarin sowel as ’n klein plonspoel. Die reptiele het was onderskeidelik 1.48 m en 1.7 m lank en is vermoedelik langer as twee jaar so aangehou.
Gerugte dat skilpaaie ook daar aangetref is, is onwaar. Die krokodille is vir behandeling na ’n Johannesburgse veeartsenykundige hospitaal geneem, waar hulle verder versorg sal word.
Om wildlewe te respekteer beteken om diere toe te laat om te leef waar hulle hoort – in die natuur, nie in hokke, agterplase of op veilingswerwe nie, sê Danelle Murray van Owl Rescue Centre. Te veel diere word uit die natuur gesteel en as troeteldiere aangehou of verkoop.
“Dit is belangrik om wilde diere te respekteer en hulle die lewe te gee wat hulle bedoel is om te leef. Elke dier speel ’n rol in die natuur, en wanneer mense inmeng deur hulle te vang of aan te hou, versteur dit daardie balans.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


