Central SA
Polisiekommissaris ontplooi taakspanne ná Woolworths-ontploffings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:50 Sat, 30 May 2026
’n Nasionale forensiese taakspan en kenners van misdaadintelligensie is ontplooi om die ontploffings by Woolworths-winkels in die Vrystaat en Gauteng te ondersoek.
Die taakspan is deur lt. genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris. saamgestel. Die ondersoeke is in ’n baie vroeë stadium en alle moontlike motiewe word ondersoek, sê brig. Athlenda Mathe, Gautengse woordvoerder.
OFM Nuus het vroeër berig tuisgemaakte ploftoestelle het binne twee dae by twee Woolworths-takke ontplof.
Die eerste voorval het Donderdag (28/5) by die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria-Oos plaasgevind en die tweede ontploffing Vrydag by Prellerplein in die noorde van Bloemfontein.
Albei ontploffings het tussen 01:00 en 02:00 plaasgevind terwyl die winkels gesluit was. Geen beserings is aangemeld nie en albei winkels het sedertdien weer hul deure vir die publiek geopen, luidens ’n verklaring.
Die kleinhandelaar sê veiligheidsmaatreëls word by al sy winkels verskerp nadat die ontploffings plaasgevind het.
Woolworths het bevestig sommige werknemers is emosioneel deur die voorvalle geraak en hulle kry ondersteuning.
Polisiebeamptes en lede van die honde- en plofstofeenheid is vroeg Vrydagoggend na die Prellerplein-winkelsentrum ontbied.

Die polisie en die honde-eenheid was op die toneel. Foto Morgan Piek
“Die bestuurder van die Woolworths Food-winkel het ’n oproep van ’n veiligheidsmaatskappy ontvang om hom in kennis te stel dat ’n ontploffing op die perseel plaasgevind het,” sê ao. Fikiswa Matoti, Valkewoordvoerder.
“In hierdie stadium sal dit voortydig wees om die voorvalle as terreurdade te klassifiseer. Die polisie bly waaksaam en sal voortgaan om die situasie te monitor namate die ondersoek vorder,” sê Mathe.
Enige bykomende veiligheidsmaatreëls, asook die monitor van persele sal bepaal word deur die voortgesette ondersoek en moontlike bedreigings. Die publiek word gevra om kalm te bly en die polisie kans te gee om hul werk te doen.
Woolworths sal ten volle met die polisie saamwerk en sal voortgaan om ondersoekbeamptes by te staan terwyl die ondersoek voortduur, sê die kleinhandelaar.
“In hierdie stadium is geen verdere inligting oor die aard van die toestelle of die motief agter hierdie aanvalle beskikbaar nie.”
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


