On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Tuisgemaakte toestelle glo gebruik in Woolworths-ontploffings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:42 Fri, 29 May 2026

Tuisgemaakte toestelle glo gebruik in Woolworths-ontploffings | News Article
Die Woolworths in Prellerplein in die noorde van Bloemfontein. Foto: Morgan Piek

Woolworths gaan veiligheidsmaatreëls in al sy winkels opskerp nadat tuisgemaakte ploftoestelle binne twee dae in twee takke afgegaan het.

Die eerste voorval was Donderdag (28/5) in die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria-Oos. Die tweede ontploffing was Vrydag in Prellerplein in die noorde van Bloemfontein.

Albei ontploffings het tussen 01:00 en 02:00 plaasgevind terwyl die winkels gesluit was. Geen beserings is aangemeld nie, en albei winkels het sedertdien weer vir die publiek oopgemaak, lui ’n verklaring van die kleinhandelaar.

Woolworths bevestig sommige werknemers is emosioneel deur die voorvalle geraak. Hulle kry ondersteuning.

Polisiebeamptes, onder wie lede van die honde- en plofstofeenheid, is na die winkelsentrum ontbied ná ’n voorval vroeg Vrydag. “Die bestuurder van die Woolworths Food-winkel het ’n oproep van ’n veiligheidsmaatskappy gekry om hom in kennis te stel dat ’n ontploffing op die perseel plaasgevind het,” sê ao. Fikiswa Matoti, Valkewoordvoerder.

Polisie, insluitend lede van die honde-eenheid, was op die toneel. Foto Morgan Piek

Beamptes het onmiddellik die betrokke gedeelte van die winkelsentrum afgesper en ’n uitgebreide soektog uitgevoer te midde van vrese dat ’n sekondêre ploftoestel moontlik geplant is. “Geen bykomende toestelle is gevind nie,” sê Matoti.

Klante word versoek om waaksaam te bly en verdagte voorwerpe of onbewaakte voorwerpe of pakkies te vermy. “Moenie met enige verdagte pakkies peuter nie. Los dit soos dit is en kontak die polisie sodat ons plofstofeenheid ondersoek kan instel.”

Die bestuur bevestig die winkelsentrum is veilig en ten volle operasioneel.

Mense drom saam buite die sentrum. Foto Morgan Piek

Die plofstofkenner Jimmy Roodt waarsku selfs klein ploftoestelle kan ernstige gevolge inhou. “(Dit) kan paniek veroorsaak, ondernemings ontwrig, werkers in gevaar stel en ’n groot wetstoepassingsreaksie ontketen.”

Die voorvalle onderstreep die belangrikheid van bomdreigementprosedures en noodreaksieplanne in winkelsentrums en werkplekke, sê Roodt.

Woolworths sal ten volle met die polisie saamwerk en sal voortgaan om ondersoekbeamptes by te staan terwyl die ondersoek voortduur, sê die kleinhandelaar.

“Op hierdie stadium is geen verdere inligting oor die aard van die toestelle of die motief agter hierdie aanvalle beskikbaar nie.”

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.