On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Oomblik van stilte vir Marais-egpaar by Krugerwildtuin se eeufeesvieringe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:59 Sun, 31 May 2026

Oomblik van stilte vir Marais-egpaar by Krugerwildtuin se eeufeesvieringe | News Article
Willie Aucamp. Ernst en Dina Marais. Foto’s: Facebook

’n Oomblik van stilte is tydens die eeufeesvieringe gehou vir die twee toeriste wat verlede week in die Krugerwildtuin vermoor is.

Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing, het Saterdagaand (30/5) amptelik die eeufeesvieringe by Skukuza geopen. Hy sê die die moord op Ernst (71) en Dina (73) Marais het nie net die familie van die egpaar geraak nie, maar ook die mense van die Krugerwildtuin. Hy beskou die Krugerwildtuin as meer as net ’n toerismebestemming.

“Die Krugerwildtuin is soos ’n familie. Dit sluit nie net die mense in wat hier werk nie, maar ook die besoekers wat jaar ná jaar terugkeer. Wanneer iets soos hierdie gebeur, verloor ons nie net toeriste nie, ons verloor ’n deel van ons Kruger-familie.”

Die Krugerwildtuin vier Sondag (31/5) sy 100ste bestaansjaar nadat dit in 1926 amptelik as ’n nasionale park geproklameer is.

Met die tema “Ons Erfenis, Ons Toekoms" word ’n eeu van natuurbewaring, biodiversiteitsbeskerming, wetenskaplike navorsing, toerismeontwikkeling en kulturele erfenis gevier, terwyl hulde gebring word aan die wildbewaarders, wetenskaplikes, gemeenskappe en bewaringsleiers wat gehelp het om die wêreldbekende wildtuin te vorm.

Aucamp sê hy bly geskok oor die tragiese gebeure en het ’n boodskap van die Marais-familie met gaste gedeel.

Die familie sê die egpaar het ’n besondere liefde vir die Krugerwildtuin gehad. Hulle het selfs ’n huis op Hoedspruit gekoop om nader aan die wildtuin te wees.

“Die familie het besoekers aangemoedig om steeds die wildtuin te ondersteun en te besoek. Ons kan nie toelaat dat die booswigte wen nie,” sê Aucamp namens die familie.

Toerismebestemming

Hy beklemtoon die moord op die Marais-egpaar is ’n uitsonderlike voorval in die wildtuin se geskiedenis. “Al is een moord een te veel, bly die Krugerwildtuin een van die veiligste toerismebestemmings in Suid-Afrika.” 

Die egpaar van Mosselbaai is na bewering op 20 Mei naby die Crooks Corner-uitkykpunt in die afgeleë Pafuri-gebied aangeval en vermoor. Hul groen Ford Ranger is later in Chokwé in Mosambiek gevind, sê brig. Hlulani Mashaba, Mpumalanga polisiewoordvoerder. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. 

Intussen moes pres. Cyril Ramaphosa op die laaste oomblik sy besoek aan die Krugerwildtuin vir die eeufeesvieringe kanselleer weens tegniese probleme met sy vliegtuig. Aucamp sê hy was by die lughawe om die president te verwelkom toe Ramaphosa hom in kennis stel dat hy dit nie meer kan bywoon nie. 

Hy sê Ramaphosa is teleurgestel, want hy het uitgesien na die geskiedkundige geleentheid.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.