On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Tragedie in Wildtuin: Minister sê ‘Kruger sal nie sy onskuld verloor nie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Thu, 28 May 2026

Tragedie in Wildtuin: Minister sê ‘Kruger sal nie sy onskuld verloor nie | News Article
Ernst en Dina Marais van Mosselbaai. Foto verskaf

Miljoene toeriste uit alle uithoeke besoek die Krugerwildtuin al langer as ’n eeu veilig. ’n Enkele tragiese voorval sal nie die nalatenskap, veiligheid en gees van een van Afrika se mees ikoniese bewaringsgebiede oorskadu nie.

So sê Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing, ná die moord op twee toeriste, Ernst (71) en Dina (73) Marais van Mosselbaai. Dit is die eerste voorval van sy soort in die Krugerwildtuin se eeu-oue geskiedenis en dit moet as “die uitsondering en nie die reël” beskou word.

“Hoewel een moord een te veel is, bly die Krugerwildtuin steeds een van die veiligste toerismebestemmings in Suid-Afrika,” beklemtoon Aucamp.

Die Marais-egpaar is na bewering Woensdag 20 Mei naby die Crooks Corner-uitkykpunt in die afgeleë Pafuri-gebied vermoor. Hul groen Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie, wat tydens die aanval gesteel is, is later verlate in Chokwé in die suide van Mosambiek teruggevind. Die verdagtes word steeds gesoek, sê brig. Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder.

Ernst en Dina Marais. Foto verskaf

Volgens SanParke is alarm gemaak toe die paartjie Woensdagaand nie by hul ruskamp opgedaag het nie. “Ons het nie geweet of hulle vasgekeer of in die moeilikheid was nie, en SanParke het onmiddellik ’n soektog begin om hulle te help,” sê Aucamp

’n Grootskaalse soektog is begin en die paartjie se liggame is Vrydagoggend deur toeriste ontdek.

“Veldwagters het wielspore in die omgewing van die misdaadtoneel gevind wat deur die bos na Mosambiek gaan, maar daar kon nie bevestig word of dit die egpaar se voertuig is nie,” sê JP Louw, SanParke-woordvoerder.

Intussen is bykomende veldwagters in die Pafuri-streek en ander afgeleë dele van die park ontplooi, terwyl bestaande veiligheidstelsels en tegnologiese monitering steeds voortgaan.

Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing. Foto verskaf

“Ons maak ook gebruik van die tegnologiese infrastruktuur wat ons het, maar ek kan nie daarop uitbrei nie, want ons wil nie alles wat ons doen in die publieke domein plaas nie. Daardie dinge is vertroulik vir ons,” sê Aucamp.

Die minister het plaaslike én internasionale toeriste gerusgestel dat hul veiligheid ’n “nie-onderhandelbare prioriteit” bly. “Die Krugerwildtuin bly ’n veilige en verwelkomende bestemming, en wat hier in Pafuri gebeur het, was beslis ’n uitsondering.”

Die Krugerwildtuin ontvang jaarliks sowat twee miljoen besoekers en het ’n internasionale reputasie opgebou as een van Afrika se voorste wildlewe-bestemmings. Volgens Aucamp moet dekades van suksesvolle toerisme en bewaring nie deur ’n enkele misdaad oorskadu word nie.

‘Ons moet hierdie skurke wys dat hulle nie teen ons sal wen nie’

“Ons kan nie toelaat dat dade soos hierdie die Krugerwildtuin sy onskuld laat verloor en mense laat wegbly nie. Ons moet hierdie skurke wys dat hulle nie teen ons sal wen nie.”

Die tragedie kom net dae voordat die Krugerwildtuin sy eeufees op 31 Mei vier. Aucamp het die mylpaal beskryf as ’n viering van “100 jaar van bewaring, wetenskaplike navorsing en toerisme”.

Onder die tema Ons Erfenis, Ons Toekoms word verskeie veldtogte en herdenkingsgeleenthede heeljaar beplan om die mense te vereer wat gehelp het om die ikoniese park te vestig en te bewaar.

“Die Krugerwildtuin is deel van Suid-Afrika se siel,” sê Aucamp. “Dit is ’n plek waar generasies families herinneringe geskep het en waar die wilde ritmes van Afrika steeds presies soos eeue gelede bly.”

Hy sê die park se unieke kombinasie van ongerepte wildernis, wildlewe en sukses met bewaring lok steeds besoekers van regoor die wêreld. “Sodra jy in die Krugerwildtuin was, gaan jy weer en weer terug.

Hy het die Krugerwildtuin beskryf as ’n plek gevul met herinneringe vir geslagte Suid-Afrikaners. “Ek onthou as kind hoe ek en my broers en susters om ’n kampvuur saam met my ouers gesit het terwyl my pa kitaar gespeel het en later die aand het ons geluister na ’n leeu wat brul of ’n hiëna wat huil. Daardie plek het so ’n groot betekenis vir Suid-Afrika.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.