Central SA
Vermiste man van Kroonstad se familie sê hulle moet maar self soek─── SUSAN MARÉ 15:27 Tue, 02 Jun 2026
Geliefdes van ’n 43-jarige, wat reeds sedert 14 Maart vermis word, sê as hulle hom nie self kan opspoor nie, sal hulle moontlik nooit weet wat van hom geword het nie.
Intussen het die ma van Hugo du Preez se seun (9) nog nie moed gehad om vir hom te sê sy pa is laas op 14 Maart gesien nie. Sarrienne Cilliers (43), wat in Johannesburg woon, sê hulle hou nog Du Preez se verdwyning vir hom geheim.
Dit maak die spanning en onsekerheid vir haar ondraaglik, vertel sy. “My seuntjie … mis sy pa. Ek het vir hom gesê (hy) werk in Afrika, waar daar nie sein is nie. Hy het aandagafleibaarheidsindroom en ek moet mooi werk met hom.”

Die 43-jarige het sy motor ná die ongeluk sonder sy selfoon verlaat en Johannesburg toe begin stap. Foto verskaf
Du Preez is twee en ’n half maande gelede laas op die N1 naby Koppies gesien. Sy suster, Sandra Swanepoel van Thabazimbi, sê sy het sy verdwyning by die polisie aangemeld.
“Nou is die polisie veronderstel om die saak te sirkuleer, van Thabazimbi se kant af. Ek het nou met ’n speurder gepraat en hy sal vir my kyk, want ons soek ‘n verwysingsnommer of iets,” het sy Maandag (1/6) aan OFM Nuus gesê.
“Kapt. Therese Lategan van die polisie op Koppies het alles moontlik gedoen. As hulle nie leidrade het nie, is dit vir hulle net so moeilik. Daarom bly dit ’n ‘selfaangedrewe’ ondersoek vir die familie, anders sal ons seker nooit antwoorde kry nie.”
LEES OOK Verdwene man van Kroonstad se seuntjie weet nog van niks
Hulle vestig hulle hoop op media soos OFM en ander platforms soos sosiale media wat oor sy verdwyning berig, om dalk iemand te bereik wat weet waar hy hom bevind of wat hom intussen gesien het.
Du Preez is as vermis aangemeld nadat sy wit VW Polo glo in ’n ongeluk betrokke was op die N1 in die Noord-Vrystaat. Du Preez is volgens ooggetuies op die dag van sy verdwyning glo gewaar waar hy op die N1 in Johannesburg se rigting geloop het.
Die veiligheidsverteenwoordiger van Kroonstad was vermoedelik op pad na Sasolburg toe sy motor in ’n ongeluk was en die verkoeler beskadig is. Persoonlike besittings, soos sy skootrekenaar, selfoon en beursie, is in die motor gevind.

Hugo du Preez se negejarige weet nog nie sy pa word al sedert middel Maart vermis nie. Foto verskaf
’n Uitgebreide ondersoek deur die polisie en honde-eenhede het nog niks opgelewer nie. Selfs hommeltuie is ingespan om na hom te soek.
Hy word as fris beskryf, tussen 1,6 m en 1,7 m lank met donkerbruin hare, grys in sy baard en blou oë. Die klere waarin hy gewaar is, was kort somerklere en plakkies. Hy het verskeie tatoeëermerke onder meer aan een van sy kuite.
Cilliers sê: “Ek is meer bekommerd oor my kind. Dit is vir my sleg om soort van agteraf met hom te wees.”
‘Hugo is naby ’n plek waar daar water is’
Maar sy trek ook noustrop. “Ek het nou al twee maande nie onderhoud gekry nie en is administratief in ’n duisternis. Skuld hy nog op sy kar en hoeveel? Ek kom nie reg by die bank nie.”
Nes sy naasbestaandes, worstel sy met vrae oor sy onverklaarbare verdwyning. “Ek het al soveel nare scenario’s beleef oor wat moontlik met hom kon gebeur het. Het hy dalk sy kop gestamp in die ongeluk?
“Hoe het ’n ooggetuie in die donker nag gesien hy het tatoeëermerke? En daar is blykbaar geen verdere inligting by die polisie oor die ooggetuie wat hom op die N1 gesien loop het.”
Uit wanhoop het sy by twee sieners aangeklop. “Albei het afsonderlik van mekaar gesê Hugo is naby ’n plek waar daar water is, moontlik Koppies.”
Terwyl sy as skoonheidsterapeut bedags ’n front voorhou voor kliënte, wonder sy onwillekeurig of die polisie genoeg doen om Du Preez op te spoor. Sy hou die blink kant bo terwyl sy sukkel om die verdwyning van haar seun se pa te verwerk.
Enigeen met inligting kan Swanepoel by 076 122 6922 of Cilliers by 084 715 4132 bel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

