Central SA
Welkom: Gewese polisiekaptein, vrou se vonnisoplegging uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Fri, 05 Jun 2026
’n Gewese polisiekaptein van die Vrystaatse Goudveld en sy vrou se vonnisoplegging is tot Julie uitgestel omdat twee voorvonnisverslae nog uitstaande is.
Die maatskaplike werker het Donderdag (4/6) aan die hof gesê sy wil haar verslag wysig, terwyl die korrektiewetoesig-beampte se verslag steeds uitstaande is. Albei verslae is op versoek van die verdediging aangevra.
Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie het in die streekhof in Welkom verskyn, waar hulle na verwagting gevonnis sou word. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n jare lange vete met die sakebroers Manny en José Jardim.

Daniel Fourie op pad terug na die selle. Foto: Charne van der Merwe
Hulle is ook verantwoordelik bevind vir graffiti wat jare lank brûe, padtekens en mure dwarsoor die Goudveld ontsier het. Fourie bly sedertdien in aanhouding, terwyl Anna op waarskuwing vrygelaat is om reëlings vir die egpaar se gestremde seun (34) te tref.
Hulle sou aanvanklik op 8 April gevonnis word. Fourie het egter op 26 Mei om borgtog aansoek gedoen. Tydens kruisondervraging het hy ’n onbekende dokument aan die hof voorgelê wat volgens hom ’n geldige rede kon wees waarom borgtog toegestaan moet word.
Ten spyte daarvan dat die saak reeds ses jaar lank voor die howe dien, is die dokument nog nooit voorheen ter sprake gebring nie.
Met die hervatting van die borgtogaansoek op Dinsdag (2/6) het adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, aangevoer die egpaar misbruik hul gestremde seun se toestand. Anna en haar man het nooit aan die gevolge vir hul seun gedink toe hulle die misdrywe gepleeg het waaraan hulle skuldig bevind is nie.

Die Jardims is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Die seun drink steeds uit ’n bottel, dra doeke en het hulp nodig met basiese daaglikse take. Anna het getuig sy sukkel om alleen na hom om te sien omdat hy groter as sy is en sy hom nie maklik kan oplig of omdraai wanneer hy epileptiese toevalle kry nie.
Volgens haar het die seun se toestand versleg sedert sy pa in aanhouding is. Terwyl hy voorheen sowat een epileptiese toeval per maand gekry het, kry hy nou glo tot drie per week.
Hy verstaan nie waar sy pa is nie, het sy ma getuig, en loop gereeld deur die huis op soek na hom. Hy kyk by vensters uit en het ook meer hardkoppig geraak.
Borgtog is nie toegestaan nie nadat verskeie teenstrydighede in Fourie en Anna se getuienis na vore gekom het.
Die vonnisoplegging word beplan vir 8 en 14 Julie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


