Central SA
Fourie-egpaar ‘misbruik gestremde seun se toestand’ in borgtogstryd─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:02 Wed, 03 Jun 2026
“Jy en jou vrou weet nie waar julle leuens begin en eindig nie.”
Dit was die woorde van die staatsaanklaer Dinsdag (2/6) nadat Daniel (60) en Anna Francina (55) Fourie volgens hom teenstrydige getuienis gelewer het tydens Fourie se borgtogaansoek. Hy bly egter agter tralies en die egpaar sal na verwagting Donderdag (4/6) gevonnis word.
Fourie, ’n voormalige polisiekaptein van die Goudveld, en sy vrou is op 7 April skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n jarelange dispuut met die broers Manny en José Jardim.
Fourie bly sedertdien in aanhouding, terwyl Anna op waarskuwing vrygelaat is om reëlings vir die egpaar gestremde seun (34) te tref. Hulle sou aanvanklik op 8 April gevonnis geword het.

Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie by die hof. Foto: Charne van der Merwe
Fourie se borgaansoek is op 26 Mei in die Welkomse landdroshof uitgestel nadat hy tydens kruisondervraging ’n onbekende dokument aan die hof voorgelê het. Hy beweer die dokument kan ’n geldige rede wees vir sy borgtog om toegestaan te word.
Ten spyte daarvan dat die saak ses jaar lank voor die howe was, was die dokument egter nog nooit voorheen ter sprake nie.
Anna het Dinsdag getuig sy en Fourie is reeds 35 jaar getroud en het vier kinders. Een van die egpaar se kinders is verstandelik gestremd, ly aan epilepsie en is afhanklik van sy ouers.

Die Jardim-broers is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Sedert Fourie ongeveer ’n week gelede getuig het, het die egpaar se getuienis grootliks daarop gefokus om die toestand van hul gestremde kind as ’n rede voor te hou waarom Fourie vrygelaat behoort te word.
Die kind drink steeds uit ’n bottel, dra doeke en het hulp nodig met basiese daaglikse take. Anna het getuig sy sukkel om alleen na hom om te sien omdat hy groter as sy is en sy hom nie maklik kan oplig of omdraai wanneer hy toevalle kry nie.
Die seun se toestand het glo versleg sedert sy pa in aanhouding is. Voorheen het hy ongeveer een epileptiese toeval per maand gekry; nou is dit glo tot drie per week. Hy verstaan nie waar sy pa is nie, het sy ma getuig, loop deur die huis op soek na hom, kyk by vensters uit en het ook meer hardkoppig geraak.
‘Fourie (het) met sy hand in sy hare gesit en … na die grond gestaar’
Terwyl sy getuig het oor die uitdagings waarmee die gesin worstel, het Fourie met sy hand in sy hare gesit en die grootste deel van die verrigtinge na die grond gestaar.
Adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, het egter aangevoer dat die egpaar nou hul gestremde seun se toestand misbruik: Anna en haar man het nooit aan die gevolge vir hul seun gedink toe hulle die misdrywe gepleeg het waaraan hulle skuldig bevind is nie.
Nog ’n geskilpunt was die seun se geldsake. Anna het getuig net haar man het magtiging om dit te hanteer. “Net my man ken die PIN van die kaart waarop my seun se Sassa-geld elke maand inbetaal word. Ek weet glad nie wat dit is nie,” het sy gesê.

’n Voorbeeld van die graffiti. Foto verskaf
Daar was ook ’n teenstrydigheid in haar getuienis toe sy oor beleggings uitgevra is. Sy het aanvanklik ontken dat hulle enige beleggings het, terwyl Fourie getuig het daar is wel beleggings.
Daarna het sy verduidelik dat sy nie kennis dra van sekere finansiële reëlings nie en dat haar man moontlik daarmee voortgegaan het sonder dat sy daarvan bewus was.
Anna het ook getuig 118 beeste en 139 skape wei op die plaas en dat die diere aan haar man behoort. Fourie het egter vroeër getuig dat ongeveer 50 van die diere aan hul gestremde seun behoort.

Kol. Ben Strydom. Foto: Charne van der Merwe
Veediefstal het ’n probleem geraak sedert Fourie se aanhouding, het sy getuig, en die gesin kan inkomste verloor. Simpson het teruggekap dat dit ongelukkig ’n algemene probleem op plase in die Vrystaat is. Dit hou nie noodwendig verband met Fourie se aanhouding nie.
Die staat het daarna vir kol. Ben Strydom, die ondersoekbeampte, as getuie geroep. Strydom, wat getuig het dat hy reeds 35 jaar en vyf maande in die Suid-Afrikaanse Polisiediens dien, het aangevoer dat Fourie nie op borgtog vrygelaat moet word nie weens veiligheidskwessies.
Die afgelope ses jaar het verskeie voorvalle hom ongemaklik gestem, byvoorbeeld eenkeer toe hy dorp toe gery het en later besef het hy het sy selfoon by die huis vergeet.
Intimidasie
Toe hy terugkeer, het hy glo vir Fourie en sy vrou voor sy woning aangetref. Hulle het weggejaag toe hulle hom sien. Hy het dit as intimidasie beskou omdat hy die ondersoekbeampte in die saak was. Terwyl die kolonel dié weergawe in die hof voorgehou het, het Anna, wat in die galery gesit het, merkbaar geskok voorgekom.
Onder kruisondervraging het Fourie se regsverteenwoordiger, adv. Elias Radebe, gevra waarom Strydom nie destyds ’n klag ingedien het nie en waarom die voorval eers nou ter sprake kom.
Hy het dit wel onder sy bevelvoerders en ander polisiebeamptes se aandag gebring. Beamptes kry gereeld dreigemente en ervaar intimidasie, het hy gesê. ’n Klagte kan nie oor elke voorval ingedien word nie.
Maar sedert Fourie se skuldigbevinding het die omstandighede verander. Dié kan nou meer rede hê om kwaad of gefrustreerd te wees. Hy weet nie waartoe die oudpolisieman in staat sal kan wees as hy op borgtog vrygelaat word nie.
Sy vrou was verlig toe Fourie nie vroeër op borgtog vrygelaat is nie, het Strydom getuig, aangesien die moontlikheid dat hy weer in die gemeenskap kan wees, haar onveilig laat voel.
Hy en Fourie ken mekaar reeds sedert omstreeks 2001, toe hulle albei in die polisiediens werksaam was.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

