Central SA
Talle kragbokse in Kimberley beskadig─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Tue, 09 Jun 2026
Die Sol Plaatje-munisipaliteit vra die gemeenskap om waaksaam te wees nadat nog voorvalle aangemeld is waarin kragbokse aan die brand gesteek is.
Die brandstigting het Dinsdag (7/6) in die vroeë oggendure in Florianville en in De Beers plaasgevind. Inwoners in verskeie strate in Beaconsfield is vir meer as 48 uur sonder krag.
Sedert verlede Dinsdag (2/6) is tien soortgelyke brandstigtings aangemeld, almal tussen middernag en 04:00, sê Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder
Die munisipaliteit het verlede week ’n kennisgewing aan inwoners uitgereik nadat sowat sewe bokse binne ongeveer 48 uur beskadig is.
Die voorvalle is na bewering nie lukraak nie, maar deel van ’n goed georganiseerde netwerk. “Dit is hoogs onwaarskynlik dat byna sewe aanvalle binne 48 uur sonder enige koördinering sou plaasvind,” sê hy.
Inwoners word versoek om verdagte aktiwiteite by munisipale infrastruktuur aan te meld, terwyl die munisipaliteit werk aan maatreëls om sy bates en kritieke infrastruktuur beter te beskerm.
Die bokse word doelbewus geteiken waarskynlik vir die koper wat binne is. Dit word as ekonomiese sabotasie beskou, sê Mothibi.
Wees bedag op die volgende:
- Openbare veiligheid en nabygeleë eiendom word in gevaar gestel. Bly weg van bokse wat gebrand het.
- Herstelwerk sal ‘n rukkie duur en belastingbetalers geld kos.
- Om sonder krag in die winter te leef, is meer as bloot ongerieflik. Dit is gevaarlik, veral vir die siekes wat daarvan afhanklik is.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 om verdagte optrede aan te meld.
Mothibi waarsku dis ’n misdaad om te peuter met elektriese infrastruktuur. “Oortreders sal vervolg word. Ons het suksesvolle skuldigbevindings met vonisse tot 15 jaar in ons plaaslike howe gehad.”
Die VF Plus veroordeel die voorvalle en sê dit ontneem inwoners en ondernemings van elektrisiteit en plaas verdere druk op reeds kwesbare infrastruktuur.
“Elke beskadigde kragboks beteken belastingbetalers sal uiteindelik vir die herstelwerk moet betaal, terwyl die kernvraag bly waarom sulke infrastruktuur so maklik geteiken word,” sê Theo Joubert, VF Plus-wetgewerlid.
Die party vra die munisipaliteit moet verduidelik watter maatreëls getref word om soortgelyke voorvalle te voorkom en watter stappe gedoen word om aanslae te verhoed.
Verhoogde polisiesigbaarheid
Die DA vra dringende ingryping, verhoogde polisiesigbaarheid en dat lt. genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, meer patrollies in Kimberley ontplooi.
“Die toename in brandstigting het reeds gebiede soos Diamantpark, Herlear, die middestad en Monument Heights sonder elektrisiteit gelaat nadat infrastruktuur beskadig is,” sê Lisa Schickerling, Noord-Kaapse provinsiale voorsitter.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


