On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Staat vra lewenslank vir Welkom-vrou wat man vermoor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Thu, 11 Jun 2026

Staat vra lewenslank vir Welkom-vrou wat man vermoor | News Article
Linda van den Heever in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die staat het Woensdag (10/6) lewenslange tronkstraf versoek vir die Vrystaatse vrou wat haar voormalige eggenoot vermoor het.

Linda van den Heever (64) het die moord beplan en was ten volle bewus van haar optrede toe die sneller byna vyf jaar gelede getrek is. Dít het die staat in hul slotbetoë aangevoer.

Van den Heever het weer in die rondgaande hooggeregshof in Welkom verskyn weens die moord op André van den Heever (64), wat op 14 Desember 2021 in hul huis in Welkom doodgeskiet is. Sy is op 22 Desember skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade.

Die egpaar het ten tyde van die voorval reeds apart geleef en in verskillende kamers in dieselfde woning gewoon. André, ’n prokureur, het sy praktyk vanaf dieselfde eiendom bedryf.

Die staat voer aan Van den Heever was ten volle bewus van haar optrede, die moord is vooraf beplan en dat sy aanspreeklik gehou moet word. 

Adv. Ena Liebenberg het aan die hof verduidelik die verhouding tussen die twee is gekenmerk deur konflik en spanning.

Albei partye het op die oggend van die skietvoorval beserings opgedoen ná ’n woordewisseling.

Volgens Liebenberg het Van den Heever haar man in sy kantoor geskiet en daarna gereed gemaak om die toneel te verlaat, onder meer deur te bad en ander klere aan te trek. 

Sy het na haar destydse kêrel, Kiewiet van der Westhuizen, in Hennenman gery, wat die polisie ontbied het.

Linda van den Heever in gesprek met adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger. Foto: Charne van der Merwe

Sy is kort daarna in hegtenis geneem. Die vuurwapen, ’n .38-rewolwer, is in haar handsak gevind. Ballistiese bewyse verbind die koeël in die oorledene se skedel met dié wapen.

Die staat voer verder aan die bewaringsketting is nie geskend nie en die enigste redelike afleiding uit die omstandigheidsgetuienis is die skietery is opsetlik en vooraf beplan. Daarom word lewenslange tronkstraf versoek.

Linda en haar seun, Christopher, in die hof. Foto: Charne van der Merwe.

Die verdediging, geleid deur adv. Allen Simpson, voer aan die staat se saak berus uitsluitlik op omstandigheidsgetuienis en daar is geen direkte bewyse wat haar onteenseglik met die skietery verbind nie.

Hy wys op beweerde leemtes in die bewaringsketting, teenstrydighede in getuienis en onreëlmatighede op die toneel. Dit sluit in vermiste en later teruggevinde vuurwapens, die verskuiwing van die liggaam, ’n onverklaarde patroon en die afwesigheid van skootresidu-toetse, al was sy beskikbaar vir toetsing.

Die verdediging voer aan Van den Heever se weergawe dat sy uit selfverdediging opgetree het, word gesteun deur haar beserings, vorige gedokumenteerde gevalle van geweld en  die kommunikasie tussen die egpaar. 

Simpson betoog verder ’n lewenslange vonnis is nie gepas nie, aangesien die staat nie ’n volledige en onbetwiste weergawe van die gebeure voorlê nie, en rehabilitasie behoort nie uitgesluit te word nie.

Linda van den Heever Woensdag in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Regter Pitso Molitsoane sê hy het tyd nodig om deur al die materiaal te werk wat die staat en verdediging in hul betoë aangebied het. Die vonnisoplegging is tot 17 Julie uitgestel.

Tydens hofverrigtinge verlede week het die staat slagofferimpakverklarings van verskeie familielede, asook hul twee kinders, Melissa en Christopher, aan die hof voorgelees.

Van den Heever het verlede Vrydag briewe in die hof voorgelees – onder meer aan André – waarin sy beweer hy het haar jare lank mishandel en dat sy vroeër uit die huwelik moes wegstap.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvs

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.