Central SA
Familie getuig oor blywende pyn ná moord op Vrystaatse prokureur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:40 Fri, 05 Jun 2026
Die emosionele impak van die moord deur sy vrou op ’n Vrystaatse prokureur is Donderdag (5/6) in die rondgaande hooggeregshof in Welkom voorgelees.
Familielede en goeie vriende se slagofferimplakverklarings is deur die staat voorgelees oor hoe die noodlottige skietery steeds hul lewe ná byna vyf jaar beïnvloed. Linda van den Heever (64) is op 22 Desember skuldig bevind aan die moord op haar eksman, André (64).
Hul dogter, Mel van den Heever, sê sy ly geweldig sedert die verlies van haar pa. Sy het hom as haar beste vriend beskryf en sê die verlies van haar pa, tesame met die verlies van haar ma wat moontlik tronkstraf sal kry, het die gesin uitmekaar geskeur.
“Ek is in ‘oorlewingsmodus’ gedwing en vind dit moeilik om met mense in die gemeenskap saam te leef wat van die saak weet en gereeld vrae vra.” Die trauma het haar verander en haar gedwing om bykomende verantwoordelikhede op haar te neem. Sy mis ook die gesinslewe wat sy eens gehad het.

Familie en vriende in die rondgaande hooggeregshof in Welkom. Foto: Charne van der Merwe
Die verlies het aansienlike emosionele en liggaamlike spanning meegebring vir haar broer, Christopher. Hy kry professionele hulp om met alles saam te lewe. Hy sukkel ook om te slaap, te konsentreer en om druk by die werk te hanteer.
Hy het ook die verleentheid beskryf om met gemeenskapsondersoek te doen te hê en sê die stres het sy gesondheid, eetlus en temperament beïnvloed, wat hom meer ongeduldig en prikkelbaar gelaat het.
Harde geluide
Elaine Marx, wat vir André gewerk en hom as ’n goeie vriend beskou het, sê die trauma het haar bang gemaak vir harde geluide soos donderweer en geweerskote. Skielike bewegings laat my skrik. “Ek kan nie onthou wanneer ek langer as vier uur geslaap het nie.”
Marx sê sy het nie net 'n vriend verloor nie, maar ook die persoon op wie sy staatgemaak het vir raad en ondersteuning. Sy ontvang ook terapie om haar te help om die hartseer en skok.
André se broer, Pierre van den Heever, het die verwoestende impak beskryf wat die moord op hul hegte familie gehad het. “André is my enigste broer en ons het ’n spesiale band gedeel.” Hy wens hy kon nog een laaste keer met sy broer gepraat het.
Pierre sê hy is hartseer dat hy en André nou nooit hul aftreeplanne meer saam gaan kan deel nie. André het glo vrese oor Linda uitgespreek en na bewering vir hom gesê sy sal hom skiet as hy haar los.
‘Geweldige pyn en trauma veroorsaak’
Tina van den Heever, Pierre se vrou, beskryf André as ’n goedhartige man wat altyd bereid was om ander te help. Sy bewonder die hegte verhouding wat hy met sy broer en ouers gehad het en die manier waarop hy uit sy pad sou gaan om hulle te help wanneer nodig.
“André se dood het geweldige pyn en trauma vir my man veroorsaak. Ons sukkel om vrede te maak met wat gebeur het.”
Linda van den Heever in gesprek met adv. Allen Simpson, haar regsverteenwoordiger. Foto: Charne van der Merwe
Juan Adendorf is die opdraggewende prokureur.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

