On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with James
Listen Live Streams

Central SA

Apteker se voorskrif: Die stryd teen pigmentasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:57 Wed, 17 Jun 2026

Apteker se voorskrif: Die stryd teen pigmentasie | News Article
Apteker Pieter Marcus, ook bekend is as Marcus die Apteker. Foto verskaf

Pigmentasie is een van die algemeenste velprobleme – maar ook een van dié wat die meeste misverstaan word.

Dit verskyn as oneweredige velkleur, donker kolle of hardnekkige vlekke wat lank ná aknee of velirritasie kan aanhou. Al lyk dit soms net soos ’n kosmetiese probleem, is pigmentasie eintlik die gevolg van komplekse prosesse in die vel wat beïnvloed word deur hormone, sonblootstelling, genetika en inflammasie.

Pigmentasieprobleme ontstaan wanneer die selle wat melanien vervaardig – melanosiete – ooraktief raak, beskadig word of abnormaal funksioneer. 

Melasma verskyn gewoonlik as groter, simmetriese bruin tot grysbruin kolle op die wange. Foto: iStock

Dit lei tot donker kolle en ’n oneweredige veltoon. “Melanien is die pigment wat jou vel sy kleur gee, en wanneer dit oneweredig versprei word, begin pigmentasieprobleme sigbaar raak,” sê Marcus die Apteker.

Pigmentasie is egter nie een enkele toestand nie, maar eerder ’n groep velveranderings wat soortgelyk lyk, maar verskillend reageer. Marcus verduidelik melasma, sonkolle en postinflammatoriese hiperpigmentasie is die drie algemeenste tipes wat op die gesig voorkom – elkeen het ’n ander oorsaak en verloop.

Melasma, sonkolle, hiperpigmentasie

Melasma verskyn gewoonlik as groter, simmetriese bruin tot grysbruin kolle op die wange, voorkop, neusbrug of bolip. Dit word sterk deur hormone beïnvloed en staan ook bekend as die “swangerskapmasker”, omdat dit dikwels tydens swangerskap of met hormonale voorbehoeding voorkom.

Sonkolle ontwikkel oor jare as gevolg van sonblootstelling en is gewoonlik kleiner, duidelik afgebakende bruin kolle op plekke soos die gesig, hande en arms. Postinflammatoriese hiperpigmentasie is donker vlekke wat agterbly ná aknee, ekseem, brandwonde of velbeserings.

“Die belangrike punt is: ’n donker vlek is nie net ’n donker kol nie,” sê Marcus. “Jy moet eers vasstel watter soort pigmentasie dit is, want dit reageer nie almal dieselfde op behandeling nie.”

Sonbeskerming

Sonblootstelling is een van die grootste faktore wat pigmentasie vererger. UV-strale stimuleer melanosiete om meer melanien te vervaardig as ’n beskermingsmeganisme teen skade. 

Wanneer dit herhaaldelik gebeur, raak hierdie proses ooraktief. Dit kan bestaande kolle donkerder maak, stadiger laat vervaag en ook nuwe kolle veroorsaak.

Volgens Marcus beteken dit nie pigmentasie is permanent nie, maar hoe meer die vel aan die son blootgestel word, hoe moeiliker raak dit om te behandel. Daarom is sonbeskerming ’n kritieke deel van enige behandelingsplan. 

Hormone speel ’n groot rol, veral by melasma. Veranderinge in estrogeen en progesteroon kan melanosiete stimuleer om meer pigment te vervaardig. 

Dit kom gereeld voor tydens swangerskap, die gebruik van sekere voorbehoedmiddels, óf met hormoonbehandeling. Sommige gevalle verbeter wanneer die hormonale sneller verdwyn, maar dit kan maklik terugkeer, veral met sonblootstelling.

Genetika beïnvloed ook hoe maklik iemand pigmentasie ontwikkel. Party mense is bloot meer geneig tot oormatige melanienproduksie, wat verklaar waarom pigmentasie dikwels meer sigbaar is by mense met donkerder velkleur.

Wat werk werklik?

Wanneer dit by behandeling kom, is Marcus reguit oor verwagtinge. Oor-die-toonbank-velsorg kan help vir ligter pigmentasie, maar is dikwels nie voldoende vir dieper of ou vlekke nie. 

Bestanddele soos retinol, vitamien C, niasienamied en azelaïensuur kan help, maar vereis geduld en volgehoue gebruik.

“Retinoïed-gebaseerde produkte is gewoonlik die moeite werd om na te kyk,” sê hy. 

Sonskerm bly die belangrikste stap. Foto: iStock

Hierdie produkte versnel selvernuwing en help dat pigmentasie geleidelik vervaag. Sterker voorskrifretinoïede, soos tretinoïen, is dikwels meer effektief, maar moet versigtig gebruik word, omdat irritasie pigmentasie kan vererger.

Vir hardnekkiger gevalle is professionele behandelings nodig. Chemiese afskilferings verwyder die boonste lae van die vel op ’n beheerde manier en help om ongelyke pigmentasie te verminder. 

Gefraksioneerde laser kan ook gebruik word, veral waar pigmentasie saam met akneemerke of veltekstuurprobleme voorkom. Hierdie behandelings stimuleer velvernuwing sonder om die hele veloppervlak te beskadig.

‘Korrekte diagnose is noodsaaklik’

Maar nie alle behandelings werk vir alle tipes pigmentasie nie. Melasma is byvoorbeeld baie sensitief vir hitte en irritasie, en kan selfs vererger as dit verkeerd behandel word. 

Daarom is ’n korrekte diagnose noodsaaklik.

Sonskerm bo alles

Ten spyte van al die behandelingsopsies bly sonskerm die belangrikste stap. “Sonskerm is waarskynlik die belangrikste deel van behandeling,” beklemtoon Marcus. 

Sonder daaglikse beskerming kan UV-strale pigmentasie aanhou stimuleer en enige vordering ongedaan maak.

Hy waarsku ook teen algemene foute soos om puisies uit te druk, die vel te hard te skrop, óf om te veel aktiewe bestanddele tegelyk te gebruik. Hierdie gewoontes irriteer die vel en veroorsaak inflammasie – wat op sy beurt melanienproduksie stimuleer en donker vlekke vererger.

Pigmentasie verbeter nie oornag nie. Ligte gevalle toon eers ná agt tot 12 weke se volgehoue behandeling verbetering. 

Chemiese afskilferings en lasers kan vinniger resultate gee, maar verg steeds verskeie sessies. Dieper of hormonale pigmentasie kan lank vat om te behandel en keer dikwels terug indien die snellers nie beheer word nie.

“Daar is nie ’n oornaggenesing nie,” sê Marcus. “Maar met die regte benadering kan pigmentasie wel mettertyd aansienlik verbeter en beheer word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.