Central SA
Woensdagvoorskrif: Marcus die apteker gee raad oor menopouse─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:44 Wed, 11 Mar 2026
Menopouse is een van die betekenisvolste oorgange in ’n vrou se lewe, maar dit word dikwels verkeerd verstaan en onderskat.
Vir baie vroue bring dit nie net liggaamlike veranderinge mee nie, maar ook emosionele uitdagings. Die goeie nuus is menopouse is nie die einde nie, maar die begin van ’n nuwe fase.
Menopouse vs. perimenopouse
Menopouse is wanneer ’n vrou se eierstokke ophou ovuleer en haar menstruasie permanent stop. Dokters diagnoseer menopouse eers amptelik nadat ’n vrou twaalf agtereenvolgende maande nie maandstonde gehad het nie, mits daar geen ander rede is soos swangerskap, borsvoeding, medikasie of mediese behandeling nie.
Perimenopouse is die oorgangstydperk voor menopouse. Gedurende hierdie tyd begin hormone fluktueer en menstruasie word onreëlmatig: Dit kan swaarder of ligter wees, korter of langer, en soms heeltemal oorslaan. Simptome soos warm gloede, nagsweet, slaapprobleme en buierigheid kom dikwels in vlae.
Die meeste vroue bereik natuurlike menopouse rondom 51. As dit tussen 40 en 45 gebeur, word dit vroeë menopause genoem. As dit voor 40 plaasvind, praat ons van voortydige menopouse, in Engels bekend as “premature ovarian insufficiency” (POI), sê die apteker Pieter Marcus, wat op sosiale media bekend is as Marcus die Apteker.

Menopouse is wanneer ’n vrou se eierstokke ophou ovuleer en haar menstruasie permanent stop. Foto: iStock
Menopouse wat deur chirurgie of mediese behandeling veroorsaak word, word dikwels anders ervaar as natuurlike menopouse, selfs al is die simptome soortgelyk, soos warm gloede, slaapprobleme en buierigheid.
“In natuurlike menopouse daal hormoonvlakke geleidelik met die jare, wat die liggaam tyd gee om aan te pas. Met chirurgies of medies geïnduseerde menopouse kan die verandering egter skielik wees. As albei eierstokke byvoorbeeld verwyder word, kan estrogeenvlakke binne dae daal, wat simptome vinnig en hewiger laat voorkom.”
Volgens Marcus kan sekere kankerbehandelings, soos chemoterapie of bestraling, ook veroorsaak dat die eierstokke ophou werk, wat estrogeen vinnig kan laat afneem. By sommige jonger vroue kan ovariumfunksie later gedeeltelik herstel.
Dit kan ook simptome soos spanning en ’n moontlike skielike verlies aan vrugbaarheid veroorsaak wat angs of depressie kan laat toeneem, sê hy, maar vir die meeste vroue is hormoontoetse onnodig om menopouse te diagnoseer, aangesien hormoonvlakke tydens perimenopouse baie kan wissel. “Daar is dus geen enkele betroubare laboratoriumtoets om perimenopouse te bevestig nie.”
In sekere gevalle kan bloedtoetse wel nuttig wees. “Vir vroue van 40 tot 45 jaar oud met tipiese simptome kan ’n follikelstimulerende hormoontoets (FSH-toets) soms die diagnose ondersteun. Vir vroue onder 40 kan dokters toets vir POI of ander toestande soos skildklierprobleme uitsluit.”
Die eerste tekens is meestal veranderinge in jou siklus. “Jou maandstondes raak onreëlmatig, dit kan korter of langer word, jy kan ’n maand oorslaan of die vloei kan skielik swaarder of ligter as gewoonlik wees. Kort daarna begin baie vroue ook simptome opmerk soos warm gloede en nagsweet. Slaap is onrustig, en gemoedsveranderinge wat kom en gaan.”
Die algemeenste menopousesimptome is warm gloede en nagsweet, dikwels vergesel van hartkloppings. Slapeloosheid kom gereeld voor, veral wanneer nagsweet slaap ontwrig.

Ná menopouse stabiliseer simptome dikwels aangesien hormoonvlakke konstant laag bly. Foto: iStock
“Vroue kan genitale en urienwegveranderinge ervaar, insluitend vaginale droogheid, pyn tydens seks, of brandende of gereelder urinering,” sê Marcus. “Wat vroue dikwels verras, is hoe skielik hierdie veranderinge kan voel, soos ’n vinnige hartklop tydens ’n warm gloed. Baie verwag ook nie spier- en gewrigspyn nie, wat algemeen voorkom tydens die oorgang en vroue amper oornag ouer kan laat voel.”
Menopousesimptome begin gewoonlik gedurende perimenopouse, dikwels in die middel veertigerjare, wanneer hormone begin wissel met simptome soos prikkelbaarheid, angs, breinmis en slaapprobleme.
Simptome is dikwels die intensste rondom die menopouse-oorgang, gewoonlik een tot twee jaar voor en ná die laaste menstruasie. “Ná menopouse stabiliseer simptome dikwels aangesien hormoonvlakke konstant laag bly, wat bevestig word twaalf maande ná die laaste menstruasie. Stemming en energie verbeter dikwels sodra hormoonskommelinge bedaar.”
Volgens Marcus is menopouse nie noodwendig die rede dat jy gewig aansit nie, maar dit kan makliker gebeur as jou leefstyl dieselfde bly, sê Marcus. “Hormoonveranderinge kan indirek ’n rol speel, maar die grootste drywer is meestal ouderdomsverwant.”

Risiko’s wissel met persoonlike mediese geskiedenis, hormoontipe, dosis en toedieningsmetode. Foto: iStock
Soos ’n mens ouer word, neem spiermassa natuurlik af, wat jou metabolisme verlaag en jou liggaam se energiebehoeftes verminder, verduidelik hy. Die handhawing van spiere deur weerstandsoefening en om aktief te bly, help om gewig tydens menopouse te stabiliseer.
Onreëlmatige bloeding is algemeen by perimenopouse weens ongereelde ovulasie, maar sekere tekens verg mediese aandag: baie swaar bloeding, groot bloedklonte, bloeding tussen menstruasies of ná omgang en enige bloeding ná twaalf maande sonder ’n menstruasie.
Hy sê hormoonvervangingsterapie (HVT) kan doeltreffend wees vir vroue onder 60, binne tien jaar ná menopouse, wie se simptome – soos warm gloede, nagsweet, slaapprobleme of vaginale droogheid – hul daaglikse lewe beïnvloed. “HVT help ook om been- en hartgesondheid te beskerm, veral by vroeë menopouse.”

Slaap is onrustig, en gemoedsveranderinge kom en gaan. Foto: iStock
Risiko’s wissel van persoonlike mediese geskiedenis, hormoontipe, dosis en toedieningsmetode. Vroue met ’n geskiedenis van hormoonsensitiewe kankers, bloedklonte, beroerte, hartprobleme, lewersiekte, onverklaarbare bloeding of onbeheerde bloeddruk moet versigtig wees.
Niehormonale behandelings is ook doeltreffend. Kognitiewe gedragsterapie kan die hewigheid van simptome temper, terwyl medikasie soos laedosis-SSRI’s of SNRI’s (paroksetien, venlafaksien, escitalopram), gabapentien, oksibutien of klonidien kan help met warm gloede, nagsweet en bui. Behandeling moet met ’n dokter gepersonaliseer word.
Volgens Marcus maak leefstylveranderinge ’n beduidende verskil. “Weerstandsoefening bewaar spiere, metabolisme, krag, balans en beengesondheid.” Gereelde slaap verbeter jou luim, demp honger en verbeter streshantering, terwyl die hantering van angs warm gloede kan verminder en algehele welstand kan verbeter.
‘Menopouse kan libido en vaginale gesondheid beïnvloed’
Menopouse kan libido en vaginale gesondheid beïnvloed omdat laer estrogeen droogheid, verdunning en sensitiwiteit kan veroorsaak, wat lei tot ongemak of urienwegprobleme, vertel Marcus. Smeermiddels of vaginale bevogtigers help met ligte simptome, terwyl laedosis- vaginale estrogeen of sistemiese HVT aanbeveel kan word vir matige tot ernstige simptome. Vroeë intervensie help vroue om gemaklik en selfversekerd te voel.
Menopouse beïnvloed energie, slaap, bui, fokus en selfvertroue. Hou simptome dop, sorg dat jy genoeg slaap kry, oefening twee tot drie maal per week, bly aktief en kry voldoende blootstelling aan sonlig om bloedsuiker, spanning en breinwerking te stabiliseer.
Menopouse kan ’n voordelige lewensoorgang wees. Dit is ’n geleentheid om jou toe te spits op jou gesondheid, krag op te bou, stres die hoof te bied en werk te maak van hart- en beenbeskerming. ’n Nuwe benadering tot menopouse as ’n gulde geleentheid om nuwe gewoontes te kies, pleks van iets wat jy verloor, kan wonders doen vir jou gemoedstoestand.
Mites en noodtekens
Volgens Marcus kan verskeie mites oor menopouse onnodige vrees of lyding veroorsaak. Een is dat ’n mens net moet vasbyt. Eintlik is menopouse normaal, en beproefde behandelings kan help.
Nog een is dat HVT altyd gevaarlik is. Hoewel dit nie vir almal geskik is nie, kan dit veilig en doeltreffend wees vir die regte vrou op die regte tyd, en besluite moet saam met ’n dokter geneem word.
Talle vroue is bekommerd dat breinwasigheid beteken dat hulle hul verstand verloor, sê hy, maar dit is gewoonlik tydelik en gekoppel aan hormonale veranderinge, slaapversteuring en stres.
“Die idee dat vaginale droogheid onvermydelik en onbehandelbaar is, is vals – smeermiddels, bevogtigers en mediese opsies kan gemak en selfvertroue herstel.”

As angs of depressie normale funksionering verhoed of jou onveilig laat voel, kry professionele hulp. Foto: iStock
Hoewel die meeste menopousesimptome ongemaklik maar nie gevaarlik is nie, mag sommige simptome nooit geïgnoreer word nie. “Enige bloeding ná menopause, twaalf maande sonder ’n maandstonde, moet altyd nagegaan word, asook baie swaar bloeding tydens perimenopouse, veral as dit duiseligheid, floutes of kortasem veroorsaak.
“Nuwe borsknoppe, onverklaarbare vinnige gewigsverlies, aanhoudende erge bekkenpyn of skielike drastiese simptoomveranderinge vereis ook aandag.”
Noodtekens, soos erge borspyn, skielike swakheid aan die een kant, ’n hangende gesig, probleme met praat of ’n skielike kwaai hoofpyn verg onmiddellike mediese sorg, maan Marcus. “As angs of depressie normale funksionering verhoed of jou onveilig laat voel, kry professionele hulp – menopouse kan emosies beïnvloed, maar jy hoef dit nie alleen te trotseer nie.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

