On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kanadese toeris sterf ná skietvoorval by piekniekplek in Krugerwildtuin

───   ZENANDE MPAME 10:15 Thu, 18 Jun 2026

Kanadese toeris sterf ná skietvoorval by piekniekplek in Krugerwildtuin | News Article
Kanadese toeris sterf ná skietvoorval in die Krugerwildtuin. Foto: sa-venues.com

Die Mpumalanga-polisie ondersoek ’n noodlottige skietvoorval waarin ’n Kanadese toeris in die Krugerwildtuin gesterf het.

Die 69-jarige van Kanada is Woensdag (17/6) dood nadat hy op ’n piekniek-en-braaiplek naby die Phabeni-hek geskiet is. Volgens voorlopige inligting het ’n privaat gids, wat vir die konsessiehouer werk, glo per ongeluk ’n vuurwapen afgevuur, wat die toeris noodlottig gewond het.

Die oorledene was deel van ’n groep wat buite die wildtuin bespreek het en die Krugerwildtuin binnegegaan het om aan ’n bosbraai-ervaring deel te neem wat deur ’n privaat konsessiehouer met ’n geldige permit aangebied word.

Nooddienste en wetstoepassers is ná die voorval na die toneel ontbied. Die polisie het sedertdien ’n ondersoek begin om die omstandighede rondom die skietvoorval vas te stel.


“Die saak is nou die onderwerp van ’n amptelike polisieondersoek, en verdere besonderhede sal bekend gemaak word wanneer dit beskikbaar en gepas is,” sê JP Louw, SanParke-woordvoerder. “SanParke betuig ons innige meegevoel met die familie, vriende en geliefdes van die oorledene in hierdie moeilike tyd.”

Beamptes het nog nie besonderhede bekendgemaak oor die vuurwapen wat betrokke was en of enige aanklagte aanhangig gemaak is hangende die uitslag van die ondersoek nie.

Intussen is twee mans in Mosambiek in hegtenis geneem vir ondervraging in verband met die moord op ’n egpaar in die Krugerwildtuin. Ernst (71) en Dina Marais (73) is op 20 Mei by Crooks Corner in die Krugerwildtuin om die lewe gebring. Hulle het die vorige dag Dina se verjaardag gevier.

Toeriste het die egpaar se liggame twee dae later in vlak water op die oewer van die Limpoporivier ontdek. Albei het veelvuldige steekwonde opgedoen.

Die Marais-egpaar se Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie is verlede Dinsdag verlate in die Chokwe-gebied in suidelike Mosambiek aangetref, sowat 350 km van die Pafuri-gedeelte van die Krugerwildtuin. Die voertuig se nommerplate was verwyder.

Die nasionale misdaadondersoekdiens, Mosambiek se eenheid vir ernstige en georganiseerde misdaad, die Wildlife Justice Commission en veldwagters van die Krugerwildtuin het nou saamgewerk om die verdagtes aan te keer.

“Ons het gesê hierdie misdadigers sal aangekeer word, en dit is presies wat gebeur het,” sê Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing. “Suid-Afrika sal nou die formele uitlewering begin om die verdagtes na Suid-Afrika te bring sodat hulle op hierdie gruwelike misdaad tereg kan staan.”

OFM Nuus/Zenande Mpame sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.