Central SA
Emfuleni-munisipaliteit: Vermeende bedrieër bring nuwe borgaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:22 Thu, 25 Jun 2026
Die vrou wat na bewering geld verduister en kennis het van die dood van ’n werknemer van Emfuleni-munisipaliteit, sal ’n nuwe borgtogaansoek indien.
Janitha van Reenen moet Maandag (30/6) weer in die hof verskyn nadat haar aanvanklike aansoek vroeër vandeesmaand van die hand gewys is. Die hof het bevind dat sy ’n vlugrisiko is.
Van Reenen, wat Dinsdag in die landdroshof op Vanderbijlpark voorgekom het, word daarvan beskuldig dat sy Emfuleni uit sowat R424 000 bedrieg het, sê Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder.
Die vrou (25) het haar voorgedoen as ’n onafhanklike diensverskaffer wat inwoners van Vanderbijlpark, Vereeniging en omliggende gebiede gehelp het om afslag op hul munisipale rekeninge te bekom.

Janitha van Reenen. Foto: Facebook
Sy het na bewering geld van slagoffers ontvang met die voorwendsel dat sy namens hulle betalings aan die munisipaliteit sou maak nadat afslag toegestaan is. Die geld is egter glo nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Volgens die klagstaat het Van Reenen ook eise namens kliënte ingedien, wat daartoe gelei het dat die munisipaliteit sowat R424 000 aan haar uitbetaal het. Dit het sy na bewering in haar sak gesteek. Nog R10 miljoen in potensiële betalings word in die klagstaat genoem.
Die staat voer aan sy was nie ’n munisipale werknemer nie en was ook nie gemagtig om eise namens Emfuleni in te dien of as diensverskaffer op te tree nie.
“Die beweerde bedrog het aan die lig gekom nadat ’n klerk in Emfuleni se finansies-en-inkomsteafdeling, Martha Mani Rantsofu, verdagte eise opgemerk en dit by haar bestuurder aangemeld het. ’n Interne ondersoek is van stapel gestuur en die saak is later by die polisie aangemeld,” sê Mahanjana.
Van Reenen het glo ook inligting oor die moord op Rantsofu, wat op 3 Maart helder oordag op Vanderbijlpark doodgeskiet is. Sy is voorheen as ’n fluitjieblaser beskou wat kommer oor onreëlmatige betalings en vermiste munisipale geld geopper het.

Martha Mani Rantsofu. Foto verskaf
Die hof het gehoor dat Van Reenen moontlik kennis dra van Rantsofu se moord. Daar is ook beweer dat sy ’n waarskuwingsverklaring aan die polisie gemaak het waarin sy sê sy weet wie verantwoordelik is vir die moord.
Staatsaanklaer Moses Raditsela het tydens vroeëre borgtogaansoeke aangevoer dat Van Reenen ’n risiko inhou om met staatsgetuies in te meng en moontlik die verhoor kan ontduik, aangesien haar woonadres nie behoorlik bevestig kon word nie.
Van Reenen was nie ’n munisipale werknemer nie maar ’n sakevrou wat haar as ’n amptenaar voorgedoen het om mense te bedrieg, het Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Van Reenen is sedert haar inhegtenisneming op 20 Mei in aanhouding. Sy het twee dae later die eerste keer voorgekom. Haar aanvanklike borgtogaansoek is op 1 Junie geweier omdat sy ’n vlugrisiko is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

