On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Duisende glo belê voor beweerde moordkomplot: Verdediging bevraagteken sleutelgetuie se beloftes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Wed, 01 Jul 2026

Duisende glo belê voor beweerde moordkomplot: Verdediging bevraagteken sleutelgetuie se beloftes | News Article
Anelle de Bruin en haar regsverteenwoordiger, adv. Allen Simpson. Foto: Charne van der Merwe

’n Oos-Kaapse vrou wat glo ’n moordkomplot teen haar vervreemde man probeer smee het, is moontlik mislei deur die staat se sleutelgetuie nadat sy reeds meer as R40 000 in sy beweerde sakeonderneming belê het.

Anelle de Bruin (48) staan in die streekhof op Aliwal-Noord tereg op ’n aanklag van sameswering om haar vervreemde man, Johan de Bruin, op hul plaas, Rietpoort, in die Floukraal-omgewing te laat vermoor. Dit sou na bewering op 9 Januarie verlede jaar na ’n plaasaanval moes gelyk het.

Die staat se eerste getuie, Petrus Johannes van Schalkwyk, oftewel Jan Wolf, is Dinsdag (30/6) op die tweede dag van die verhoor deur die verdediging kruisondervra. Luidens vyf dokumente deur adv. Allen Simpson, De Bruin se regsverteenwoordiger, aan die hof voorgelê, het Van Schalkwyk maande voor die beweerde huurmoordplan sakegeleenthede aan haar voorgehou en haar aangemoedig om in sy onderneming te belê.

Van Schalkwyk het erken hy het meermale geld by De Bruin geleen toe hy noustrop getrek het. Hy het ook erken hy is verplig om dié geld terug te betaal, maar het getuig dat dit nog nie gebeur het nie.

Johan en Anelle de Bruin. Foto: Facebook

Staatsaanklaer Anele Magibile het egter beswaar gemaak teen die toelating van die dokumente en aangevoer die beweerde transaksies is nie relevant tot die aanklagte van sameswering om moord te pleeg nie.

Simpson het gesê die dokumente is belangrik omdat die verdediging moontlik kan bewys Van Schalkwyk het De Bruin mislei. Die hof het gehoor De Bruin en Van Schalkwyk het op 16 November 2024 ’n ooreenkoms aangegaan waarvolgens sy ’n belegger in sy onderneming, God’s Farmcy, sou word.

Dit sou glo natuurlike produkte vir kankerbehandeling ontwikkel. Volgens die ooreenkoms sou De Bruin R3 miljoen ontvang sodra die produk in produksie kom, gevolg deur ’n maandelikse bedrag van R75 000 vir haar ondersteuning daaraan.

Briewe gefabriseer

Die hof het gehoor Van Schalkwyk het op 23 Desember 2024 ’n testament onderteken waarin hy sy onderneming aan De Bruin bemaak het indien hy sou sterf. Op 30 Desember 2024 is ’n brief van ’n maatskappy, CancerLab SA, aan die getuie gestuur waarin hulle glo bykans R4 miljoen sou betaal omdat hulle potensiaal gesien het in die besigheid.

Van Schalkwyk het getuig dié geld was bedoel vir De Bruin se vorige beleggings en dat CancerLab SA daarin belanggestel het om sy produk aan te koop en self te vervaardig. Simpson het aangevoer geen onafhanklike bewys bestaan dat CancerLab SA werklik bestaan het nie.

Die dokument het geen straatadres of registrasiebesonderhede bevat nie, wat daarop kan dui die briewe is geskep om De Bruin te mislei. Van Schalkwyk het dié beskuldiging ontken en volgehou De Bruin het uit eie beweging besluit om in sy onderneming te belê.

Die staat het Maandag (9/6) tydens die vorige hofverrigtinge ’n video as belangrike materiaal in die saak aangebied. Dit is sonder De Bruin se medewete geneem tydens ’n ontmoeting in haar gastehuis op Lady Grey, maar wys slegs dele van haar liggaam.

Simpson voer aan die video was nie bloot ’n opname van ’n gesprek nie, maar deel van ’n uitlokkingstrategie. Van Schalkwyk het reeds met iemand in die polisiediens kontak gehad voordat die video gemaak is, het hy gesê. Die doel daarvan was om materiaal teen De Bruin in te samel.

Van Schalkwyk het egter gesê De Bruin het hom op 4 Januarie ontsteld gebel. Hy het haar ’n paar dae gegun om af te koel, voordat hy besluit het om hulp te soek nadat hy besef het sy was ernstig oor haar planne.

Maar tydens kruisondervraging het onsekerheid ontstaan oor wanneer hy die polisie betrek het. Van Schalkwyk het getuig dat hy eers ná 8 Januarie, nadat die video reeds gemaak is en nadat hy van die beweerde plan gehoor het, met die polisie kontak gemaak het.

‘Dit is op die polisie se instruksies dat jy ’n video gemaak het’

Simpson het hom met dié verskil in sy getuienis gekonfronteer en aangevoer dat die video in opdrag van die polisie gemaak om De Bruin uit te lok. “Dit is op die polisie se instruksies dat jy ’n video gemaak het om bewyse teen die beskuldigde in te samel, met ander woorde, ’n lokval waarin sy uitgelok word.”

Van Schalkwyk het dit ontken en verduidelik dat hy nie na die polisie as ’n amptelike ondersoekspan verwys het nie, maar na ’n vriend wat in die polisiediens werk. Hy het egter geweier om die persoon se naam of afdeling bekend te maak en gesê hy sal slegs bereid wees om dié besonderhede privaat aan die landdros te verskaf.

Die hof in Aliwal-Noord. Foto: Charne van der Merwe

Van Schalkwyk het getuig die raad wat hy van dié persoon ontvang het, was eenvoudig om “die regte ding te doen”. Hy het dit verstaan as ’n aansporing om self te probeer keer dat De Bruin met haar plan voortgaan.

Hy het die saak op homself geneem, daaroor gebid en die video later aan die polisie oorhandig. “Die doel van die opname was om die besonderhede van die gesprek vas te lê en nie om bewysmateriaal te skep nie.”

Simpson het egter aangevoer Van Schalkwyk se gedrag in die video pas nie by dié verduideliking nie. Hy het nie probeer om De Bruin te keer nie, maar eerder saamgestem en haar aangemoedig deur te sê haar plan kon werk en sou na ’n plaasmoord kon lyk.

Van Schalkwyk het dié bewering verwerp. De Bruin was voorheen ’n goeie vriendin wat hom gereeld ondersteun het wanneer hy swaargekry het, het hy getuig.

“Sy sou sien wanneer ek terneergedruk is en vir my sê God sal my nie los nie en dat sy vir my bid. Ek het gedink dit is my geleentheid om ’n vriend wat swaarkry, ook by te staan,” het hy getuig.

Die hofverrigtinge is gestaak sodat die getuie ’n bus terug na sy woonplek kon haal. Sy verblyfplek kan nie bekendgemaak word nie aangesien hy in getuiebeskerming is. Die verhoor is tot 21 en 22 September uitgestel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.