On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse beskuldigde moet rehabilitasieprogram doen ná aanrandingsaak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:23 Thu, 09 Jul 2026

Bloemfonteinse beskuldigde moet rehabilitasieprogram doen ná aanrandingsaak | News Article
Franzelle Venter en Dipao Moreng Donderdag by die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die klaer in die saak waarin ’n Bloemfonteinse sakevrou van aanrandig beskuldig word, het besluit om nie met die aanklag voort te gaan nie.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het Donderdag (9/7) weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Sy staan tereg op ’n aanklag van aanranding.

Venter, wat agt maande swanger is, het na bewering vir Dipao Moreng, die klaer in die saak, tydens ’n rusie op 24 Oktober by Venter se woning in Fichardtpark aangerand.

Moreng het besluit om nie met die aanklag voort te gaan nie. Weens die erns van die saak het die staat die hof egter versoek dat Venter na ’n rehabilitasieprogram verwys word. Die versoek is deur die verdediging aanvaar. Sy moet weer Dinsdag (14/7)  in die hof verskyn vir ’n Nicro-evaluering.

Bloemfonteinse sakevrou se aanrandingsverhoor begin | News Article

Franzelle Venter. Foto: Facebook

Nicro is die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders, ’n Suid-Afrikaanse organisasie sonder winsoogmerk wat hom beywer vir misdaadvoorkoming en die rehabilitasie van oortreders.

Die program is ’n alternatiewe proses tot vervolging waarin ’n beskuldigde verantwoordelikheid aanvaar en aan gestruktureerde rehabilitasiemaatreëls deelneem. Dit kan berading, vaardigheidsontwikkeling of gemeenskapsprogramme insluit. Suksesvolle voltooiing van so ’n program kan in sekere gevalle daartoe lei dat ’n beskuldigde ’n misdaadrekord vryspring.

Moreng het destyds by Venter se kosonderneming gewerk toe sy glo op die dag van die voorval gevra is om verpakkingswerk, wat die vorige dag gedoen is, oor te doen. Sy beweer Venter het haar beledig en ’n video-opname gemaak terwyl sy die gehalte van haar werk bevraagteken het.

Sy het besluit om die perseel te verlaat en het geld vir vervoer gevra. “Venter het aggressief geraak. Sy het my teen die sleepwa gedruk terwyl sy my gewurg het,” beweer sy.

’n Kollega het glo probeer ingryp, maar kon nie daarin slaag om die twee vroue te skei nie. “Haar hande was heeltyd om my nek en sy het my gewurg. Ek kon nie asemhaal nie.”

Sy het glo krapmerke aan die linkerkant van haar nek en aan haar borskas opgedoen. Moreng sê buite die hof aan OFM Nuus sy was aanvanklik net aangestel om in die huis en met die kinders te help.

“Maar toe die mense by haar kosonderneming begin bedank, het sy my gebruik om daar ook te help. Ek is nie ’n sjef nie. Ek weet niks van kos maak nie en sy het kwaad geword wanneer ek foute gemaak het.” Moreng is sedert die voorval werkloos en sê Venter skuld haar steeds geld vir werk wat sy gedoen het.

Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die klag is later na aanranding verander. Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens haar op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.