Central SA
Oudpolisieman en vrou na verwagting Dinsdag gevonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:47 Mon, 13 Jul 2026
’n Oudpolisieman van die Vrystaat en sy vrou sal na verwagting Dinsdag (14/7) in die streekhof in Welkom gevonnis word ná ’n hofsaak wat reeds ses jaar duur.
Die staat en die verdediging sal eers hul slotbetoë lewer, waarna Daniel Jacobus (60) en Anna Francina (55) Fourie na verwagting gevonnis sal word. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind op meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria.
Fourie is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding, terwyl Anna se waarskuwing verleng is om die egpaar tyd te gee om die nodige reëlings vir hul verstandelik gestremde seun (34) te tref.
Die saak spruit uit ’n jare lange vete met die Goudveldse sakemanne Manny en José Jardim. Die staat het aangevoer die Fouries was verantwoordelik vir honderde dreigende boodskappe, intimidasie en graffiti wat oor jare heen op brûe, padtekens en mure dwarsoor die Goudveld verskyn het.

Daniel Jacobus Fourie en sy vrou, Anna Francina. Foto’s: Charne van der Merwe
Die graffiti het onder meer beledigende uitlatings en beskuldigings teen die Jardim-familie bevat.Die egpaar is aanvanklik ook van poging tot moord aangekla nadat een van die Jardims se huise na bewering met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. Een van die koeëls het glo ’n kind rakelings gemis. Dié aanklagte het egter nie deel gevorm van die eindelike skuldigbevinding nie.
Die vervolging het deurgaans aangevoer die beweerde teistering hou moontlik verband met vermoedens dat Manny Jardim die biologiese pa van die Fouries se oudste kind is.
Die vaderskapskwessie het herhaaldelik tydens die verhoor ter sprake gekom. Die staat het in 2021 selfs ’n DNS-toets versoek. Fourie het die toets aanvanklik geweier, later ingestem, maar eindelik nie daaraan voldoen nie.
Verskeie ander voorvalle is ook tydens die verhoor aangebied, waaronder beweerde dreigende telefoonoproepe, geskille oor vee, ’n beweerde motorjaagtog en boodskappe wat volgens die staat vanaf ’n telefoonnommer gestuur is waartoe slegs die egpaar toegang gehad het. Fourie het die bewerings deurgaans ontken en volgehou die staat se getuies is onbetroubaar.
Die saak is die afgelope ses jaar herhaaldelik vertraag. Van die vertragings is toegeskryf aan Fourie se gereelde verandering van regsverteenwoordigers, ’n doktersbrief waarin aangevoer is Anna ly aan brongitis, asook sy versoek om ’n tolk nadat hy voorheen sonder probleme Engels gepraat en verstaan het.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf
Selfs ná die skuldigbevinding het verdere vertragings gevolg. Fourie se borgtogaansoek is uitgestel nadat hy onverwags ’n dokument aan die hof voorgelê het wat na bewering deur die hooggeregshof uitgereik is en hom as die enigste persoon magtig om sy verstandelik gestremde seun se geldsake te bestuur.
Adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, het egter aangevoer die egpaar gebruik hul gestremde seun as rede waarom hulle nie tronkstraf behoort uit te dien nie. Die dokument is volgens die staat nooit tevore tydens die ses jaar lange hofverrigtinge aan die hof bekendgemaak nie, en die egtheid daarvan is bevraagteken.
Sedert Fourie se aanhouding het die egpaar se regsverteenwoordiger, Sam Nkuna, herhaaldelik aangevoer die gesin verkeer onder geweldige geldelike en persoonlike druk. Volgens getuienis moes hul dogter haar studie onderbreek om haar ma te help met die versorging van haar verstandelik gestremde broer.

’n Boodskap op ’n selfoon wat deel vorm van die ondersoek. Foto verskaf
Die gesin lei ook finansiële verliese op hul plaas nadat Fourie sy werk verloor het en vee na bewering gesteel is. Tydens die jongste hofverrigtinge is twee voorvonnisverslae aan die hof voorgelê.
Mollin Matsididi, ’n maatskaplike werker van die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling, het getuig gevangenisstraf sal ’n ernstige uitwerking op die egpaar se verstandelik gestremde seun hê en het korrektiewe toesig aanbeveel.
’n Beampte van korrektiewe dienste, Mabaleka Jan Radebe, het eweneens aanbeveel dat die egpaar vir korrektiewe toesig oorweeg word, met streng voorwaardes soos huisarres, gemeenskapsdiens en rehabilitasieprogramme.
Simpson het egter aangevoer die verslae plaas te veel klem op die belange van die beskuldigdes en hul gesin, sonder om voldoende aandag te gee aan die erns van die meer as duisend misdrywe en die uitwerking daarvan op die slagoffers en die gemeenskap.
Fourie, wat voorheen die rang van kaptein in die polisie beklee het, is intussen uit die diens ontslaan. Hy hou vol hy is onskuldig en het aangevoer hy sal ná vonnisoplegging teen sy skuldigbevinding appelleer.
Simpson is ingevolge artikel 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


