On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Yvette
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Hofstryd kom oor Graaff-Reinet se nuwe naam

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:44 Mon, 20 Jul 2026

Hofstryd kom oor Graaff-Reinet se nuwe naam | News Article
Daar is ’n moontlikheid dat Graaff-Reinet se naam gaan verander. Foto verskaf

Die omstrede herdoop van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe-dorp is op pad hof toe nadat ’n burgerregteorganisasie besluit het om die naamsverandering in die hooggeregshof te betwis.

AfriForum sê die minister van sport, kuns en kultuur en die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad het nou aangedui hulle gaan die hofaansoek teenstaan. AfriForum het reeds in Mei vanjaar sy aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien, sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, het op 6 Februarie in die Staatskoerant aangekondig dat Graaff-Reinet voortaan as Robert Sobukwe-dorp bekend sal staan.

Die Wet op die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name bepaal besware kan binne 30 dae ná die publikasie van ’n naamsverandering ingedien word. AfriForum het op 16 Februarie ’n prokureursbrief aan McKenzie gestuur waarin beswaar teen die besluit gemaak is.

Die burgerregteorganisasie sê die brief is nooit beantwoord nie en daarom het hulle hulle tot die hof gewend. “Hoewel daar aanvanklik geen aanduiding was dat die saak teengestaan sou word nie, het die respondente hul voorneme bekend gemaak nadat die saak op die ongeopponeerde hofrol geplaas is,” sê Bailey.

Die organisasie se beswaar steun onder meer op die Oos-Kaapse beleid oor plekname, wat bepaal dat name met besondere geskiedkundige betekenis slegs in uitsonderlike gevalle verander behoort te word.

AfriForum voer aan dat geen sodanige uitsonderlike omstandighede in Graaff-Reinet se geval bestaan nie. “Die dorp dra reeds 240 jaar dié naam en daar is onvoldoende oorweging gegee aan die bewaring van sy historiese en kulturele erfenis. ’n Omvattende studie het bevind dat die meerderheid inwoners teen die naamsverandering gekant is en dat die proses wat gevolg is, ongrondwetlik was.”

Graaff-Reinet. Foto verskaf

Bailey sê naamsveranderinge het ’n maklike manier geword vir politici om die wanindruk te skep dat hulle kragdadig optree, terwyl hulle eintlik die plekke waarvan die name verander word en die land se kultuurgeskiedenis minag en belastinggeld wat ten bate van inwoners aangewend kon word, vermors.

“Ons kan dit nie langer toelaat nie, veral nie wanneer ’n pleknaam met die historiese gewig van Graaff-Reinet ter sprake is nie.”

Johann Harmse, voorsitter van AfriForum se Graaff-Reinet-tak, sê inwoners is bekommerd oor die moontlike uitwerking wat die naamsverandering op die dorp se kultuur-historiese betekenis, toerismebedryf, ekonomie en gemeenskapsverhoudinge kan hê.

“Die inwoners het reeds duidelik gewys hoe sterk hulle teen enige verandering gekant is en ons stemme verdien om gehoor te word,” sê Harmse.


AfriForum se regspan wag nou op die respondente se hofstukke en die vasstelling van ’n hofdatum.

Graaff-Reinet is op 19 Julie 1786 as die vierde landdrosdistrik in die Kaapkolonie gestig om beter administrasie aan die oostelike grens te bied. Die dorp, vernoem na goewerneur Jacob van de Graaff en sy vrou, Reinet, het later 'n belangrike politieke en ekonomiese sentrum geword, 'n rol in die Groot Trek gespeel en was die laaste dorp wat onder die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie gestig is. Die historiese drosdy, wat in 1806 voltooi is, is vandag 'n nasionale erfenisterrein en huisves die bekende Drostdy Hotel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.