On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kommer heers oor stadige R708-herstelwerk tussen Clocolan, Marquard

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Wed, 22 Jul 2026

Kommer heers oor stadige R708-herstelwerk tussen Clocolan, Marquard | News Article
Die Clocolan-pad. Foto: Andries van Rooyen

Maande ná beloftes en openbare protesoptrede oor die gevaarlike R708 tussen Marquard en Clocolan, heers kommer dat die herstelprojek nie teen die verwagte tempo vorder nie en moontlik nie sy beplande voltooiingsdatum sal haal nie.

’n Onlangse oorsigbesoek deur die DA het volgens die party stadige vordering aan die lig gebring. Die party soek nou antwoorde oor die bestuur, tydlyn en besteding van die projek, sê José Coetzee, DA-raadslid in die Setsoto-munisipaliteit.

Inwoners, boere en die plaaslike taxivereniging het in Julie verlede jaar die pad gesluit om dringende optrede af te dwing, waarna die Vrystaatse regering onderneem het dat die rehabilitasieprojek op koers is. Die pad is eers heropen nadat ’n memorandum aan die provinsiale regering oorhandig is.

Die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer het daarna bevestig dat die eerste betaling van R1,89 miljoen reeds aan die kontrakteur gemaak is en dat verdere betalings op grond van vorderingsverslae sou volg. Die departement het gesê die projek behoort binne 24 maande voltooi te wees.

Plaaslike belanghebbendes het egter destyds gewaarsku dat die projek reeds agt maande agter skedule was. Hoewel daar wel aan die pad gewerk word, sê Coetzee die algehele tempo wek ernstige kommer oor die vraag of die herstelwerk steeds volgens plan verloop.

“Wat ook opvallend is, is dat daar slegs ’n klein aantal werkers op die terrein was. Dit laat vrae ontstaan oor of voldoende hulpbronne beskikbaar gestel is om die projek doeltreffend en binne die vasgestelde tydlyn te voltooi.”

Gerugte doen glo ook die ronde dat die projek se inwonende ingenieur met onmiddellike effek by die kontrakteur bedank het. Hoewel die redes daarvoor onbekend is, laat dit volgens Coetzee verdere vrae ontstaan oor die voortgesette bestuur, toesig en stabiliteit van die projek.

“Die DA gaan formele vrae aan die Vrystaatse wetgewer rig om vas te stel of die projek steeds volgens skedule verloop, waarom die vordering so stadig is, hoeveel geld reeds bestee is en hoe dit met die werk wat voltooi is, vergelyk,” sê Coetzee.

Die party wil ook weet hoe gereeld toesig oor die projek gehou word en watter noodmaatreëls ingestel is om verdere vertragings te voorkom. Volgens Coetzee moet die regering duidelik uiteensit wie vir die projek verantwoordelik is en wanneer die pad eindelik voltooi sal word.


“Die R708 is ’n belangrike ekonomiese en vervoerroete vir die gemeenskappe van Clocolan, Marquard en die omliggende landbougebiede. Inwoners, pendelaars, ondernemings en boere ly reeds jare lank onder die verslegtende toestand van die pad en verdien deursigtigheid, aanspreeklikheid en ’n projek wat sy beloftes nakom.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.