On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Miné se 18de verjaardag bring hoop op ’n nuwe lewe sonder pyn

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:42 Wed, 29 Jul 2026

Miné se 18de verjaardag bring hoop op ’n nuwe lewe sonder pyn | News Article
Miné du Plessis. Foto verskaf

In plaas van koek en geskenke wag ’n operasietafel op ’n Noordwes-tiener op haar verjaardag, haar laaste poging om te voorkom dat sy permanent haar vermoë om te loop verloor.

Miné du Plessis van Wolmaransstad sal op 6 Augustus, haar 18de verjaardag, ’n uitgebreide rugoperasie by Faerie Glen-hospitaal in Pretoria ondergaan. ’n MRI-skandering het vroeër bevestig dat haar rugmurg by die L5-werwel onder ernstige druk is en dat die toestand dringend behandel moet word.

Miné is gebore met Dubowitz-sindroom, ’n seldsame toestand wat eers in 2015 gediagnoseer is en wat ’n kind se groei en ontwikkeling beïnvloed.

Kinders met dié toestand groei dikwels stadiger as verwag, voor sowel as ná geboorte. Hulle kan ’n ondergemiddelde kopgrootte hê (mikrosefalie) en sekere gelaatstrekke wat dokters as kenmerkend van die sindroom beskou.


Die toestand kan ook leerprobleme of ’n verstandelike gestremdheid veroorsaak. Baie kinders met Dubowitz-sindroom het ook ekseem, ’n veltoestand wat droë, jeukerige en ontsteekte vel veroorsaak.

Haar rugprobleme het verlede jaar begin, maar verdere ondersoeke het getoon dat sy waarskynlik met spondilolistese gebore is – ’n toestand waarin een werwel vorentoe oor die werwel daaronder gly. Algaande het dit vererger tot spondiloptose, die ernstigste vorm van die toestand, waar haar L5-werwel heeltemal uit posisie gegly het en ernstige druk op haar rugmurg plaas, vertel haar ma, Drinél Pienaar.

Miné du Plessis en haar ma, Drinél. Foto verskaf

“Tydens haar jongste ondersoek het die spesialis vasgestel hoe ernstig die toestand geword het. Die MRI het gewys dat haar rugmurg by die L5-werwel baie erg onder druk is.”

Die operasie behels verskeie ingewikkelde prosedures om haar ruggraat te stabiliseer, die druk op haar rugmurg te verlig en die verskuifde werwels reg te stel. Die doel is om haar pyn te verlig en haar weer normaal te laat loop.

Hoewel dit goed gaan met Miné, het haar toestand die afgelope tyd verder versleg. “Sy kan glad nie meer lank staan of baie loop nie, want dit veroorsaak erge pyn.

“Sy kan nie buk om iets op te tel nie en party dae kan sy nie eens gemaklik loop nie. Sy moet haarself baie stil hou, want as sy sou val of skeef draai, kan sy verlam word,” sê Pienaar.

Miné du Plessis. Foto verskaf

Net voor die operasie sal die familie die finale bespreking met die chirurg hê, waartydens die volledige prosedure en die risiko's verduidelik sal word. Miné sal daarna na verwagting vir minstens drie maande baie rustig moet herstel en gereelde opvolgafsprake bywoon. Dit kan tot ’n jaar duur voordat sy volkome herstel.

Ten spyte van alles sien sy met hoop uit na die operasie. “Sy sê sy is nie bang nie, want sy was reeds op sewejarige ouderdom deur ’n groot operasie. Sy is opgewonde, want sy sien daarna uit om weer sonder pyn te kan loop en beweeg.”

Pienaar sê die gesin is dankbaar dat die operasie eindelik moontlik geword het danksy die oorweldigende ondersteuning van mense regoor die land en selfs oorsee.

“Die gemeenskap was fantasties. Die grootste skenking het van mense in ons dorp gekom wat graag anoniem wou bly. Hulle het altesaam R417 000 geskenk. Chris van Beljon van die organisasie Bring Hoop het gehelp om die laaste uitstaande rekeninge in te samel en te betaal.

“Daar was selfs skenkings uit Australië vir brandstof, X-strale, kompressiekouse en pajamas. Ons het ook verblyf in Pretoria gekry en oral uit die land het mense vir ons gebid, boodskappe gestuur en ondersteuning gebied.”

Sy sê die gesin sal die ondersteuning nooit vergeet nie en hulle is opreg dankbaar, eerstens teenoor ons Hemelse Vader wat soveel mense se harte aangeraak het om ons te help.

“Elke rand, elke gebed, elke boodskap en oproep beteken ongelooflik baie vir ons. Sonder hierdie operasie sou my kind se lewe heeltemal anders gelyk het. Daar is nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ons is nie,” sê Pienaar.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.