On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Geldinsameling begin vir Noordwes-tiener se stryd teen seldsame toestand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:24 Wed, 11 Feb 2026

Geldinsameling begin vir Noordwes-tiener se stryd teen seldsame toestand | News Article
Miné du Plessis (17) ly aan ’n ernstige ruggraattoestand en verloor geleidelik haar vermoë om te loop. Foto verskaf

Weens ’n ernstige ruggraattoestand verloor ’n tiener van Noordwes geleidelik haar vermoë om te loop.

Sonder dringende behandeling en ’n operasie kan Miné du Plessis se lewe permanent verander. Dié 17-jarige van Wolmaransstad het eens gehardloop, gedans en beweeg sonder om aan pyn te dink. Nou is elke tree versigtig, haar bewegings word beperk, en haar slaap word gereeld ontwrig deur ongemak.

Haar rugprobleme het die eerste keer in Januarie verlede jaar opgeduik. Destyds het die simptome verbeter nadat sy haar huisdokter gespreek het en oefeninge gegee is om haar maagspiere te versterk en postuur te verbeter. ’n Paar maande lank was daar geen groot bekommernisse nie, sê Drinél Pienaar, haar ma.

“Teen einde November het die pyn egter teruggekeer en aansienlik vererger. Miné het erge laerugpyn begin ervaar, wat na haar linkerbeen beweeg het. Die manier hoe sy loop het verander, en dit het opvallend geword dat haar heupe nie meer simmetries was nie.”


Miné du Plessis en haar ma, Drinél. Foto verskaf

Miné is gebore met Dubowitz-sindroom, ’n seldsame toestand wat eers in 2015 gediagnoseer is en wat ’n kind se groei en ontwikkeling beïnvloed.

Kinders met hierdie toestand groei dikwels stadiger as verwag, voor sowel as ná geboorte. Hulle kan ’n kleiner-as-gemiddelde kopgrootte hê (genoem mikrosefalie) en sekere gelaatstrekke wat dokters herken as tipies van die sindroom.

Dit kan ook leerprobleme of intellektuele gestremdheid veroorsaak. Baie kinders met Dubowitz-sindroom het ekseem, ’n veltoestand wat droë, jeukerige en ontsteekte vel veroorsaak.

Die sonar van haar rug. Foto verskaf

Simptome kan van persoon tot persoon verskil, maar kan ook vertraagde ontwikkeling insluit, wat meebring dat die pasiënt nie lank kan sit, loop of praat nie, en gedragsuitdagings.

Volgens Pienaar glo dokters dat die toestand ’n rol gespeel het in die ontwikkeling van haar ruggraatprobleme. Daar word vermoed dat sy met spondilolistese gebore is, ’n toestand waarin een werwel vorentoe gly oor die werwel onder dit.

Met verloop van tyd het die toestand progressief vererger en nou gevorder tot spondilopiose, die ernstigste vorm van die versteuring, waar die werwel heeltemal uit sy posisie gegly het.

As die werwel oormatig gly, kan die been op ’n senuwee druk, wat pyn veroorsaak. Oor die algemeen word ruggraatbene van die lae rug aangetas.

Permanente senuweeskade

Nadat sy na ’n ortopediese spesialis verwys is, het X-strale in Januarie die erns van haar toestand bevestig. Haar L5-werwel het heeltemal gegly en is nou onder die S1-werwel, net bo die stuitjie.

Volgens medici is spondilopiose uiters gevaarlik indien dit nie behandel word nie. Dit kan lei tot permanente senuweeskade, toenemende ruggraatmisvorming, verlamming en die ontwikkeling van cauda equina-sindroom, ’n ernstige neurologiese toestand, sê Pienaar.

Miné moet op 11 Mei ’n ruggraatchirurg spreek sodat verdere assesserings en ’n MRI-skandering die presiese chirurgiese benadering kan bepaal. Hoewel die finale plan nog nie bevestig is nie, is chirurgie onvermydelik.

Die operasie sal na verwagting in die Faerie Glen-hospitaal in Pretoria plaasvind. Die koste sal na raming tussen R250 000 en R400 000 beloop, na gelang van hoe ingewikkeld dit is.

“Miné leef met konstante pyn. Sy kan nie meer deelneem aan die aktiwiteite waarvan sy eens gehou het nie en sukkel met alledaagse bewegings,” sê Pienaar.

Sy kan nie lank sit of staan nie, sukkel om op te staan nadat sy gesit het, en loop stadig weens die ongemak. Saans is besonder uitdagend en sy moet dan dikwels pynmedikasie gebruik wat nie geskik is vir langtermyngebruik nie.

Die Pienaar-gesin samel geld in om die koste van die operasie en enige onvoorsiene mediese uitgawes te help bestry. Die mikpunt is R550 000.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.