On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Pasop: Só kan identiteitsdiewe jou bankrekening binne minute leeg trek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:06 Thu, 30 Jul 2026

Pasop: Só kan identiteitsdiewe jou bankrekening binne minute leeg trek | News Article
Vir georganiseerde misdaadsindikate is elke stukkie persoonlike inligting waardevol. Foto: iStock

Misdadigers kan ’n mens se persoonlike inligting maande of selfs jare lank gebruik om bedrog te pleeg voordat jy besef iets is fout.

Baie slagoffers kom eers agter hul identiteit is geskaak wanneer skuldinvorderaars hulle nader of hul kredietaansoeke skielik afgekeur word, sê Mike Bolhuis, privaat speurder. “Teen daardie tyd kan bedrieërs reeds bankrekeninge oopgemaak, lenings uitgeneem of selfoonkontrakte in hul naam aangegaan het.”

Identiteitsdiefstal eindig selde by die diefstal van persoonlike inligting. “Dit is gewoonlik die beginpunt van ’n reeks gesofistikeerde misdade wat finansiële verliese en ernstige regsprobleme vir slagoffers kan veroorsaak,” sê hy.

Misdadigers gebruik gesteelde identiteite om persoonlike lenings, kredietkaarte, voertuigfinansiering en winkelrekeninge aan te vra. Slagoffers besef dikwels eers wat gebeur het wanneer hul kredietrekords reeds beskadig is.

SIM-kaartbedrog is steeds een van die grootste gevare, waarsku hy. “Sodra bedrieërs beheer oor ’n slagoffer se selfoonnommer kry, kan hulle eenmalige wagwoorde, bankkennisgewings en ander sekuriteitskodes onderskep om bankrekeninge binne minute leeg te trek,” sê Bolhuis.

Benewens finansiële bedrog word gesteelde identiteite ook gebruik om bankrekeninge oor te neem, versekeringsbedrog te pleeg, siekefondse te misbruik, vals belastingterugbetalings aan te vra en selfs maatskappye te registreer.

“Misdadigers gebruik ook gesteelde identiteite vir geldwassery, voertuigbedrog en selfs mensehandel en onwettige immigrasie,” sê Bolhuis. “Dit beteken onskuldige mense kan sonder hul medewete met ernstige misdade verbind word.”

Verskeie waarskuwingstekens dui daarop dat iemand jou identiteit misbruik. Dit sluit in onbekende banktransaksies, kredietnavrae wat jy nie aangevra het nie, skuldinvorderingsbriewe, selfoonkontrakte wat jy nooit onderteken het nie, onbekende belastingkorrespondensie of mediese eise wat jy nie ingedien het nie.

“Suid-Afrikaners moet hul persoonlike inligting so goed moontlik beskerm. Moenie persoonlike besonderhede verskaf voordat jy seker is met wie jy te doen het nie, moet nooit eenmalige wagwoorde deel nie en merk afskrifte van jou identiteitsdokument met die doel waarvoor dit gebruik word en die datum waarop dit uitgereik is.”


Bolhuis beveel ook aan dat mense sterk, unieke wagwoorde gebruik, twee-faktor-verifikasie aktiveer, hul bank- en kredietprofiele gereeld monitor. “Dokumente met persoonlike inligting moet vernietig word voordat dit weggegooi word en enige verlore of gesteelde identiteitsdokumente moet onmiddellik aangemeld word.”

“Jou identiteit is een van jou waardevolste besittings. Hoe vinniger jy verdagte aktiwiteite raaksien en hoe beter jy jou persoonlike inligting beskerm, hoe kleiner is die kans dat jy die volgende slagoffer van identiteitsdiefstal word,” waarsku Bolhuis.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.