On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley Action Group wil Sol Plaatje-munisipaliteit hervorm

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:57 Fri, 31 Jul 2026

Kimberley Action Group wil Sol Plaatje-munisipaliteit hervorm | News Article
Foto ter illustrasie

Ná jare van protes, memorandums en pogings om Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley tot verantwoording te roep neem die Kimberley Action Group nou die stryd na die stembus.

Die burgerlike beweging het hom jare lank buite die politiek gehou. Op 4 November sal hy egter aan die plaaslikeregeringsverkiesing deelneem in ’n poging om die bestuur van die munisipaliteit weer in die hande van plaaslike gemeenskappe te plaas, sê Kagiso “Boyce” Makodi, die organisasie se stigter, koördineerder en voorsitter.

Die beweging het doelbewus as ’n burgerlike organisasie voortgegaan omdat dit politieke partye aanspreeklik wou hou sonder om aan enige van hulle verbind te wees.

“Oor die jare is daar betoog, vreedsame stilstandaksies georganiseer, memorandums ingedien, raadsvergaderings bygewoon, met staatsdepartemente geskakel en munisipale verkrygingsprosesse bevraagteken. Dit is nou tyd dat inwoners self groter verantwoordelikheid vir die munisipaliteit aanvaar,” sê Makodi.

Die groep se politieke benadering sal op onafhanklike gemeenskapsleierskap gegrond wees, met plaaslike verteenwoordigers wat aan inwoners aanspreeklik is eerder as aan politieke partystrukture.

Bekostigbare elektrisiteit, beter basiese dienslewering, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en groter aanspreeklikheid binne die Sol Plaatje-munisipaliteit is van die beweging se belangrikste prioriteite.

Een van die voorgestelde ingrypings is die instelling van ’n onafhanklike Sol Plaatje-kommissie van ondersoek om bewerings van wanadministrasie, korrupsie, onreëlmatighede met verkrygingsprosesse en magsmisbruik te ondersoek.


Makodi sê die voorgestelde kommissie sal onder meer kommer oor munisipale aanstellings, beweerde politieke inmenging in indiensnemingsbesluite, verkrygingsprosesse, behuisingstoekennings, munisipale grond en besigheidspersele, asook die toekenning van tenders en kontrakte, moet ondersoek.

Die kommissie moet volgens die beweging onafhanklik van politieke partye en die munisipale administrasie wees en die vermoë hê om getuienis te ontvang, fluitjieblasers te beskerm, dokumente te ondersoek en aanbevelings te maak waar oortredings vasgestel word.

“Die doel is nie wraak nie, maar om antwoorde te kry op langdurige vrae oor hoe die munisipaliteit bestuur is.”

‘Geen gesin behoort langs rou riool te woon of aan swak dienslewering gewoond te raak nie’

Bekostigbare elektrisiteit is een van die belangrikste prioriteite. Die huidige koste plaas volgens Makodi ’n toenemende las op huishoudings, pensioentrekkers en klein ondernemings.

Groter dringendheid word ook geëis met die hantering van rioolstortings, vullisverwydering, watervoorsiening, paaie en ander infrastruktuur wat volgens die beweging agteruitgaan.

“Geen gesin behoort langs rou riool te woon of aan swak basiese dienslewering gewoond te raak nie.” Die beweging wil hê Kimberley-gebaseerde klein, medium en mikro-ondernemings moet meer direk voordeel trek uit munisipale besteding en infrastruktuurprojekte.

Plaaslike ondernemings moet volgens Makodi ’n groter rol speel in infrastruktuurontwikkeling, plaaslike werkverskaffing en die skep van ekonomiese geleenthede. Daar word ook gepleit vir billike, deursigtige en merietegegronde prosesse wanneer werksgeleenthede wat deur die munisipaliteit befonds word, gevul word.

Geloofsgegronde organisasies word as ’n belangrike deel van die beweging se planne vir gemeenskapsherstel beskou. Die plan is om met kerke, moskees, tempels en ander geloofsgemeenskappe saam te werk om maatskaplike uitdagings soos misdaad, dwelmmisbruik, geslagsgegronde geweld, haweloosheid en moedeloosheid onder die jeug op te los.

Die beweging meen infrastruktuurherstel alleen sal nie genoeg wees om Kimberley op te bou nie. Sterker sosiale samehorigheid, aanspreeklikheid en ’n hernude gevoel van Ubuntu word ook as noodsaaklik beskou. Die mikpunt is om geloofsgemeenskappe weer as bakens van hoop en ondersteuning binne plaaslike gemeenskappe te posisioneer. 

Misdaad en immigrasie vorm ook deel van die groep se prioriteite. Suid-Afrika se immigrasiewette moet toegepas word, terwyl georganiseerde misdaad, dwelmhandel en korrupsie deur wettige middele bekamp moet word.

Die beweging verwys ook na die Madlanga-kommissie van ondersoek as ’n voorbeeld van die wyer gevolge van korrupsie en kriminaliteit binne staatsinstellings.

“Kimberley kan nie nog ’n geslag van mislukte bestuur bekostig nie. Die komende verkiesing bied inwoners ’n geleentheid om ’n alternatief te kies en plaaslike besluitneming weer in die hande van die gemeenskap te plaas,” sê Makodi.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.