On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Yvette
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Upington: Kommer oor onkoste van straat se naamsverandering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Sat, 01 Aug 2026

Upington: Kommer oor onkoste van straat se naamsverandering | News Article
Upington se omstrede straatsnaamsverandering. Foto verskaf

’n Politieke party in die Noord-Kaap eis ’n munisipaliteit moet volledig rekenskap gee van elke sent wat reeds aan die omstrede hernoeming van ’n straat bestee is.

Die DA sê belastingbetalers het die reg om te weet hoeveel geld reeds aan die projek bestee is. “Die polisie ondersoek steeds bewerings dat ’n bedrieglike petisie gebruik is om die naamsverandering goed te keur,” sê Henk Opperman, DA-raadslid in die Dawid Kruiper-munisipaliteit.

Die raad moet ’n volledige uiteensetting ontvang van alle uitgawes wat met die projek verband hou. Dit sluit in die koste van straatnaamborde, pad- en randsteenmerke, administrasie, bekendstellings en enige ander verwante uitgawes.

“Die ANC se petisie ter ondersteuning van die naamsverandering het na bewering gemanipuleerde inligting bevat. Onder meer data wat glo van DA-vorms oorgeneem is en die naam van ’n oorlede DA-lid,” sê Opperman.

Die DA sê die ANC se petisie met 1 317 handtekeninge is gebruik om die naamsverandering goed te keur, maar die petisie daarteen met 7 055 handtekeninge is geïgnoreer. 

Opperman sê dit is kommerwekkend dat die munisipaliteit daarmee voortgaan. Sommige randstene is reeds oorgeverf, nuwe straatnaamborde is opgerig en staatsgeld is ook aan die Erfenisdag-bekendstelling van die genoemde straat bestee.

“Indien die ondersoek uiteindelik bevind dat daar onreëlmatighede in die proses was, kan belastingbetalers betaal vir ’n projek wat nooit moes begin het nie,” sê hy.

Die omstredenheid oor Schröderstraat het in 2025 begin. Die familie van Alfred Qayiso Gubula, voormalige UDF-leier, het glo die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur versoek om die straat na hom te noem. 

Die munisipaliteit het destyds gesê dit sal eers oop wees vir kommentaar voordat dit vir finale goedkeuring aan die raad voorgelê word.

AfriForum het aangevoer die proses was nie inklusief nie en het geëis dat dit gestaak word totdat behoorlike openbare deelname plaasgevind het. 

Die organisasie beklemtoon Schröderstraat is deel van Upington se geskiedenis. Dit is na ds. Christiaan Schröder, ’n sendeling en sleutelfiguur in die stigting van die dorp, genoem.

Die DA het vroeër ook beswaar gemaak en aangevoer daar is nie behoorlik vir die projek begroot nie, terwyl die munisipaliteit reeds onder ernstige finansiële druk verkeer. Die party sê geen duidelikheid is destyds oor die verwagte onkoste van die naamsverandering verskaf nie.

Navrae is aan Patrick Williams, woordvoerder van die munisipaliteit, gestuur.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.