Central SA
Kommer oor Mangaung-metro se tariefverhogings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:49 Sun, 02 Aug 2026
‘n Burgerregteorganisasie soek antwoorde van die metro nadat sommige inwoners se munisipale tariefverhogings met etlike honderd persent gestyg het.
AfriForum het in ’n dringende skrywe aan Sello More, munisipale bestuurder, die metro tot verantwoording geroep oor die buitensporige verhogings wat sedert die instelling van die 2026/2027-tariewe op sommige inwoners se munisipale rekeninge verskyn.
Verskeie inwoners, veral dié op kleinhoewes, plase en in die omliggende gebiede van Bloemfontein, soos Bainsvlei, het verhogings van etlike honderd persent aangemeld.
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners al hoe meer moet betaal, terwyl hulle self paaie moet onderhou, privaat vullisverwydering moet reël en alternatiewe oplossings vir water, elektrisiteit en ander basiese dienste moet finansier,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Inwoners betaal in werklikheid twee keer vir dienste wat die metro behoort te lewer.”
Verhogings
AfriForum meen ongerymdhede soos hierdie moet onder die vergrootglas geplaas word en dat die metro inwoners ’n verduideliking skuld oor hoe die tariewe bereken en goedgekeur is, asook waarom sommige eiendomme skielik anders geklassifiseer is as tevore.
Die organisasie vra ook alle rekeninge met abnormale verhogings moet onmiddellik ondersoek word en die betwiste gedeeltes opgeskort word terwyl formele dispute oorweeg word. Verkeerde waardasies, eiendomsklassifikasies, tariewe en terugwerkende heffings moet sonder versuim reggestel en gekrediteer word.
“Die Grondwet verleen nie aan munisipaliteite ’n onbeperkte mag om tariewe willekeurig te verhoog nie. Tariewe moet wettig, rasioneel, billik en deursigtig wees. Die metro kan nie sy finansiële en diensleweringsmislukkings eenvoudig op betalende inwoners afskuif nie,” sê Groenewald.
“Die inwoners van Mangaung kan nie aanhou om meer vir minder te betaal nie. Verhoogde tariewe moet met aanspreeklikheid, deursigtigheid en meetbare dienslewering gepaardgaan.”
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


